En toe vra hulle my sowaar om oor die Dywel te skryf – kan jy glo! Ek ken die ou nie eens nie; trouens, ek dink nie eens dat die Dywel enigsins bestaan nie.
O gaats, dis seker gewaagd vir ’n dominee om te sê dat hy of sy nie in ’n Dywel glo nie.
Maar vir enige een wat iets van wetenskap af weet, is dit na my mening onmoontlik om nog in die bestaan van so ’n entiteit te glo. Daar is letterlik geen wetenskaplike bewys dat so iets bestaan nie. Maar, hoor ek jou sê, wetenskap kan tog nie alles verklaar nie! Wat van musiek? Wetenskap kan klankgolwe verklaar, maar nie musiek nie – bedoelende nou wanneer is ’n kombinasie van klankgolwe musiek en wanneer is dit geraas? Dis net ’n klomp geraas! het die ou mense gesê toe ouens met takhare elektriese klanke begin maak het en honderde topverkopers op die mark gehad het.
Goed, jy is reg, wetenskap (oftewel natuurwetenskap) het nie al die antwoorde nie. Dog gaan dit nie hier oor persoonlike smaak nie, maar oor die bestaan van ’n bose wese. Daar moet tog spore van so iets wees wat wetenskaplik ondersoek kan word? O ja, boosheid is in oormaat teenwoordig in die wêreld, moord en doodslag en haat en al die goed. Dit is al ontleed, en daar is gevind dat dit mense was wat booshede gepleeg het. Daar waar mense wel daarop geroem het dat hulle nie self verantwoordelik was vir hul wandade nie, maar onder aanvoering van die een of ander bose entiteit was, is bevind dat hulle skuldig was voor die reg en is hulle strafregtelik vervolg. Dit was die geval met die onlangse okkulte-verwante hofsake in Krugersdorp, en dit was die geval met geslagte voorgangers wat terugslaan tot by die eerste mense, wat die Bybelskrywers uit die Babiloniese tyd gemeen het Adam en Eva was. Ook daar is die bose as verskoning deur mense gebruik om hul eie verantwoordelikhede te ontduik.
Maar die Bybel is dan vol van die Dywel, hoor ek jou sê. Die Bybel is tog nie verkeerd nie? Inderdaad, maar die Bybel skryf van Leviatans en monsters ook; en ons glo nie meer daaraan nie. Ons weet dit het deel gevorm van hoe mense oor die werklikheid gedink het. ’n Mitiese werklikheid waar God in die hemel is, die mens op die aarde en die bose wat kom van onder die aarde uit. Trouens, die Ou Testament is vol van die beskrywings van ’n onderwêreld, genoem She’ôl, en dat die Shatân van daar af kom, en Shatân beteken letterlik “niks”. Die bose soos die Ou Testament dit verstaan, dui op die afwesigheid van God – daar waar daar niks is; daar waar daar geen sin en betekenis in die lewe is nie. Gelowiges word telkens versoek om ’n lewe sonder God te leef – ’n lewe van niks; niks gehoorsaamheid en dankbaarheid; niks verantwoordelikheid nie.
In wese is dit ook waaroor die bose en demone waarvan ons in die Nuwe Testament lees, gaan. Daar is geglo dat mense wat siek is, soos met epilepsie en skisofrenie, betrek was deur ’n bose gees of ’n demoon. Of dat daar bose magte in die lug ronddryf. Dit is tog duidelik dat al hierdie gevalle nie daaroor gaan om ons te oortuig van die bose nie, maar eerder om mense te oortuig van die mag van God en dat God, deur Jesus Christus, aan die kruis die mag van die bose volstrek verslaan het. Vir ’n gelowige is daar geen rede om die bose te vrees nie en, meen ek, geen rede om die bose te probeer bewys of om bangmaakstories oor die bose te fabriseer nie.
Dit is ook nie net ek wat so dink nie – daar is ’n tradisie van teoloë wat ons Kerk se teologie vorm wat ook so dink. Een van hulle het gesê die bose is soos ’n Switserse kaas, dié met gate in. Daar is gedeeltes van kaas en gedeeltes van niks; God se teenwoordigheid is die gedeeltes van kaas, en die gedeeltes waar God nie is nie, is die gedeeltes van niks – net leë gate. God is die Iemand en die bose is die niemand.
Ek ontken nie die bose nie, maar ek is oortuig dat solank gelowiges in ’n verhouding met God leef, hoef dit nie eens deel van ons woordeskat te wees nie – veral nie as dit gaan oor ons eie verantwoordelikheid vir ons swak keuses en sondige dade nie.
Vir die kinders verduidelik ek dit dikwels so: As jy ’n keteltjie op ’n warm plaat sit, dan word die water in die keteltjie warm en die keteltjie se deksel word ook warm. Daar sal nie vlieë op die dekseltjie kom sit nie – hulle kan eenvoudig geen vatplek kry op die keteltjie nie. ’n Gelowige wat in ’n warme verhouding met God leef, hoef nie bang te wees vir die bose vlieë nie, want hulle sal eenvoudig nie sitplek in ons lewe kry nie.
So, ek dink regtig nie ek gaan verder tyd aan hierdie onderwerp bestee nie, en ek sal maar die versoek om oor die Dywel te skryf liewer van die hand wys.
Maar kan jy glo – hier skryf ek al amper twee bladsye vol oor niks en niemand!

Hoe spel mens dywel of duiwel
Die verkeerde spelling is intensioneel lakonies n.a.v. hoe die woord uitgespreek word deur sekere mense. Soortgelyk aan “My Mô en Pô bly in Pretôria” wat so bietjie draaksteek met aanstelligrigheid.
*aanstellerigheid
Die enigste alternatief vir die “DYWEL” wat NIE bestaan nie en “bose” in die mens, is dat God self die mens boos geskaap het. En die skrywer maak nou nes Adam: “Die VROU, wat JY (God) gemaak het…” en soos sy: “Die SLANG, wat JY (God) gemaak het” – deur uiteindelik vir God te blameer vir ons swakheid. Dit negeer die hele punt van die kruisiging van Christus om ons van ons sonde te verlos. As daar nie ‘n “DYWEL” is nie, maar daar is sonde (of ENIGE vorm van “boosheid”), dan is GOD SELF verantwoordelik vir ons sondige natuur – en BAIE arrogant om ons te wil straf daarvoor (EN nogal WREED om sy enigste seun daarvoor te wil opoffer a la Isak). Terloops, as die “wetenskap” die “DYWEL” nie onderskryf nie – dink jy die wetenskap onderskryf die bestaan van God? Natuurlik nie. Dan kan ons mos maar die HELE idee van “God” skrap. Ek verwerp sulke godslastering komende van ‘n beroepafwagtende leraar nogal. Groete, Chris
Ek hoef gelukkig nie in die erediens geloof in die dywel te bely nie. Die Apostoliese Geloofsbelydenis sê presies waarin(In wie.) ons glo.
In Christus kan ons die lewe van oorwinnaars leef. Fil 4:13 Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.
Dag Chris,
Ek het groot waardering vir die erns waarmee jy geloof benader. Ek kan jou verseker dat ek ook groot erns maak met geloof en hoegenaamd nie opsetlik probeer om “godslasterlik” te wees nie – dalk moet ons eers na mekaar luister voor ons mekaar etiketeer?
Kom ons gesels oor jou argument:
1. “die enigste alternatief” meen jy is dat God die mens boos geskape het. Ek stem hoegenaamd nie daarmee saam dat dit die enigste alternatief is nie. Die mens is geskape na die BEELD van God as mens, nie as god nie. Dit hou in dat die mens kan kies. God dwing nie die mens om in Hom te glo nie; die mens glo ook nie bloot uit klakkelose noodwendigheid nie, maar uit vrye wil en keuse. Dit beteken nie dat God die mens boos geskape het nie, maar die mens kies om teen God se wil in te gaan. Waar die verhouding met God gaan oor dankbaarheid, lojaliteit, gehoorsaamheid, en verantwoordelikheid, verskuif die mens die blaam na iets anders – ander mense, ander magte, en ja selfs op God. Die mens se keuse om teen God te kies bring afstand tussen God en hom/haarself en dit is sonde. Dit maak God hartseer. Die uiteinde van so ‘n keuse is die ewige dood en net Christus kan (en het reeds) die mens van die ewige dood uit liefde en genade verlos.
2. Onderskryf die wetenskap die bestaan van God? Nee. Maar dit is mos tog waaroor geloof gaan – ‘n vaste kennis en ‘n sekere wete, soos die Heidelberge Kategismus dit verwoord. Die aansprake op die bestaan van ‘n bose as ‘n entiteit is menslike aansprake en vir daardie menslike aansprake is daar geen wetenskaplike onderskrywing nie. Die aansprake van die bestaan van God is die openbaring van God self, deur sy Woord, deur sy Seun en sy teenwoordigheid deur die Gees. Daar is ‘n oormaat van getuienis daarvan in die Bybel en deur gelowiges deur die eeue; en dit word deur wetenskaplike ondersoeke ondersteun, soos argeologie, teologie, geskiedenis edm. Godslasterlik? Inteendeel – dit bring mens net weer onder die besef van die grensloosheid van God se genade en dié wete maak dat ons nie anders kan as om Hom te loof en te prys deur ‘n dankbare lewe nie.
Lees ‘n bietjie die Apokriewe boeke. Dit word nie in ons Bybel ingepas nie, maar dit is tog deur mense geskryf wat met God gewandel het. Lees veral die boek van Henog. Jy hoef nie in die duiwel te glo nie, maar weet hy en sy trawante bestaan. Jy moet jou vyand ken. Jy moet hom nie volg nie. Ons het ondervinding van wat hulle kan doen deur vriende wat daar betrokke was en uiteindelik net gelukkig lewendig daar uitgekom het. Hy werk in die kerk ook en onthou hy glo ook in God en Christus.
Leon, daar is baie goeie redes hoekom die apokriewe boeke nie deel uitmaak van die Kanon (Bybel) nie en sodoende nie as betroubare getuienis kan dien vir geloof nie. Ek is glad nie vertroud met die studieveld van antieke Hebreeuse tekste nie – ek het eerlikwaar net ‘n paar uur spandeer om bietjie op te lees sodat ek jou kan beantwoord. Die sogenaamde Boek van Henog is ‘n baie problematiese teks. Die oorsprong en samestelling is baie onduidelik. Alhoewel sekere figure soos Justinus en Irenaeus gemeen het dat dit skriftuurlik is, het dit al minder in kanonieke versamelings gefigureer en is dit later in totaliteit weggelaat. Daar het wel ‘n paar verwysings na Henog oorgebly in die Bybel. Ek meen dus dat oor die onderwerp van die bose bevestig die antieke tekste juis die mitologiese werklikheid van waaruit mense die bestaan van ‘n bose entiteit gekonstrueer het. Indien jy kans sien kan jy gerus hierdie akademiese artikel oor Henog lees: http://www.ericlevy.com/Revel/P%20S%20Alexandar%20-%20The%20Historical%20Setting%20of%20the%20Hebrew%20Book%20of%20Enoch.PDF
Oor die impak en houvas wat okkultiese groepe op mense het is ek met jou eens – daar is heelwat gedokumenteerde gevalle daarvan, godsdienstig sowel as niegodsdienstig.