By die ouderlinge fokus die wisselformulier op hulle verantwoordelikheid om die gemeente en predikant(e) te begelei. Wat die diakens betref, val die klem op die diakens se verantwoordelikheid om mense in nood by te staan. Dit is in albei gevalle in lyn met die NGB (Artikel 31).

(* Die formulier kan ook gebruik word om nét ouderlinge of nét diakens in die amp te bevestig. Indien wel, laat die betrokke paragrawe uit wat nie van toepassing is nie.)

Gemeente van ons Here Jesus Christus!

God gebruik mense om sy werk in die kerk en in die wêreld te doen. Daarvoor rus die Heilige Gees gelowiges met gawes vir hulle dienswerk toe.

God roep ook sekere mense om besondere dienswerk te verrig. Die Bybel getuig dat hierdie dienswerk van vroeg af in die kerk bestaan het. Hierdie bedieninge het onder andere gestalte gekry in die verkondiging, die gee van leiding en versorging. Dit het ontwikkel tot die ampte soos ons dit vandag ken, naamlik die amp van predikant, ouderling en diaken. Om hulle ampswerk te verrig, behoort ouderlinge en diakens die Woord van God ywerig te bestudeer, eredienste getrou by te woon en in toewyding aan God te lewe.

Die ouderlinge:

Soos ‘n herder, moet ouderlinge met hulle dienswerk die gemeente voorgaan in geloof, met liefde versorg en oor almal se leer en lewe opsig hou. Só begelei ouderlinge die gemeente om hulle lewe aan God te wy.

Die ouderlinge se dienswerk behels ook om die predikant te ondersteun, die gemeente te begelei en te bestuur, asook om middele te vind wat die voortgang van die evangelie in die wêreld bevorder. Deur hierdie diens van die ouderlinge rus Christus die gelowiges toe om mee te werk aan die opbou van sy liggaam.

Die diakens:

Uit dankbaarheid vir die liefde en genade van God in Jesus Christus, reik ons uit na mense. Diakens moet die gawe hê om nood in die gemeente en gemeenskap raak te sien. Hulle behoort ook middele te vind om hulp te verleen en die gemeente aan te moedig om mekaar en ander se laste te dra.

Hierdie versorging gaan altyd gepaard met die verkondiging van die evangelie van liefde en hoop. Só word God se barmhartigheid in die wêreld sigbaar.

Geliefde broers en susters, God het u deur sy gemeente geroep om die dienswerk wat aan u voorgehou is, te verrig. Voordat u as ouderling of diaken bevestig kan word, moet u eerlik op die volgende vrae antwoord:

  • glo u dat God u, deur die gemeente, tot hierdie dienswerk geroep het?
  • glo u dat die evangelie alles wat vir ons verlossing nodig is, bekend maak, soos belig in ons belydenis?
  • beloof u om hierdie werk getrou en met toewyding te verrig en om deurlo-pend daaroor verantwoording te doen?

Hierop antwoord elkeen individueel met die uitlees van sy/haar naam:

Ja.

Daarop moet die bedienaar sê:

Mag die almagtige God u sy genade gee dat u in hierdie diens getrou en vrugbaar werksaam mag wees. Amen.

Verder moet hy/sy hulle, sowel as die hele gemeente, soos volg toespreek:

Ouderlinge en diakens, verrig u dienswerk nederig, met geduld en liefde, toegewyd en afhanklik van God. Bid voortdurend dat God u deur sy Gees vir u diens-werk sal toerus, lei en bystaan.

Gemeente, ontvang, respekteer en ondersteun hierdie broers en susters as dienaars van God. Voorsien hulle met die nodige middele om hulle dienswerk te verrig. Deur dit te doen sal ons in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe – die Heer en Hoof van sy kerk!

Uit ons eie het ons nie die vermoë om dit te doen nie. Laat ons God vra om ons daarvoor toe te rus.

Kom ons bid:

Gebed (Kan ook met ‘n vrye gebed vervang word):

Ons Vader wat in die hemel is, ons dank U dat ons mag glo dat U self mense roep om in u diens te staan. Dankie vir die mense wat u geroep het om in hierdie gemeente te dien.

Ons bid dat U altyd aan hierdie ouderlinge en diakens die gawes vir hulle dienswerk sal gee:

  • versterk hulle geloof
  • vervul hulle met u liefde
  • skenk hulle wysheid
  • besiel hulle met die moed van oortuiging
  • gee hulle onderskeidingsvermoë
  • maak hulle mededeelsaam.

Here, gebruik hulle liefdevolle leiding, versorging en diens, sodat ons in toewyding aan U sal lewe. Gee dat ons as gemeente mekaar sal liefhê en dra.

Ons bid dit in die Naam van Jesus Christus, ons Verlosser en Here. 
Amen

Share via
Copy link
Powered by Social Snap