Lukas 17: 11-19
Op sy reis na Jerusalem het Jesus al met die grens tussen Samaria en Galilea langs gegaan. Net toe Hy ’n sekere dorpie wou binnegaan, kom tien melaatse mans Hom tegemoet, maar hulle bly op ’n afstand staan en roep hard: Jesus, Here, ontferm U oor ons! (Luk 17: 13). Toe Hy hulle sien, sê Hy: Gaan wys julle vir die priesters (Luk 17: 13). Op pad daarheen het hulle gesond geword. En een van hulle het, toe hy sien dat hy genees is, omgedraai en God hardop geprys. Hy het voor die voete van Jesus neergeval en Hom gedank. Hierdie man was ’n Samaritaan.
Toe sê Jesus: Is daar nie tien gesond gemaak nie? Waar is die ander nege? Is daar niemand anders wat teruggekom het om God te prys nie behalwe hierdie man wat nie ’n Jood is nie? (Luk 17: 17-18).
Die een man wat omgedraai het raak van groter belang soos hy Jesus nader. Hy val voor Jesus se voete neer. Hy loof God. Hy dank Jesus. Hy is nog nie kulties rein verklaar nie, tog dank hy Jesus alreeds. Sy dankbaarheid bind hom persoonlik aan Jesus en hy dank nie net vir Jesus omdat hy gewoon gesond geword het nie, maar omdat hy in Jesus iemand meer as bloot ’n wonderwerker sien.
Soos die nege manne, was daar talle ander mense wat ook Jesus se hulp ontvang het sonder om in ’n permanente band van dankbaarheid met Jesus te staan. Dalk is hulle ook rein verklaar deur ’n priester, maar hulle het die volmaakte Hoëpriester, Jesus Christus, misgeloop. Dalk fisies genees en so verklaar deur ’n mens, maar het ’n ontmoeting met God misgeloop.
Mag ons beleef soos hierdie Samaritaan dat God ons ons ware rigting en identiteit gee. Want ná sy ontmoeting met God, maak die teks dit heel duidelik, is dit nie weer nodig om na ’n priester te gaan nie. Jesus sê aan hom: Staan op en gaan huis toe. Jou geloof het jou gered (Luk 17: 19). Amen.
Ds Rudi Janse van Rensburg, Swellendam