1 Korintiërs 12: 1-3

Om te sê en te bely dat Jesus die Here is, is om ’n kragtige geloofsbelydenis uit te spreek. Terwyl Jesus op die aarde as ’n mens geleef het, het Hy as Jesus bekend gestaan. Met verloop van tyd het sy dissipels besef dat Hy die Christus, die Messias, is (Mark 8: 27-35). Daarom is Hy ná sy opstanding Jesus Christus genoem en as sodanig bely. Later is Hy Jesus Christus die Here genoem. In die oorspronklike Grieks word die woord kurios vir Here gebruik. Kurios beteken die een aan wie die mag behoort; die heerser; die een wat oor die mensdom en die wêreld heers. Die kurios se naam is bo alle name. Die kurios is die heerser bo al die heersers en die koning van al die konings.

In Jesus se tyd en daarna het die Romeinse keiser homself die kurios genoem. Daarmee het die keiser homself as die heerser oor die wêreld aangestel. Die Christene kom egter en bely binne die Romeinse Ryk dat hul Jesus die kurios is. Hulle glo en bely dat met die opstanding en hemelvaart van Christus Hy verhoog is tot die Heerser oor alle heersers. Hy is die Koning oor al die konings. Sy Naam is bo alle name. Vanselfsprekend het hierdie belydenis die vroeë Christene in botsing met die Romeine gebring. Christene bely immers ’n ander kurios, ’n ander Heerser, ’n ander Koning as die Romeine. Daarvoor moes baie Christene met hul lewe boet.

Laat ons die Heilige Gees dank dat Hy ons altyd weer oortuig van hierdie kragtige belydenis: Jesus Christus is die Here. Sonder die Heilige Gees sal niemand dit weet, glo en bely nie.

Dr Daan van Wyk (jr), Van der Hoff