Johannes 14: 5-6

Tomas sê toe vir Hom: ‘Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg daarheen ken?’ (Joh 14: 5).

’n Mens kan jou goed indink dat wanneer Jesus vir sy dissipels sê dat hulle die weg ken na die plek waarheen Hy gaan, daar oomblikke van ’n gelaaide stilte was. Maar Tomas verbreek die stilte. Eerlik en sonder voorgee sê hy: Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg ken? (Joh 14: 5)

Ons praat graag van die ongelowige Tomas, maar Johannes skets hom eerder as iemand wat met opregtheid en erns vrae vra. Sy vraag is nie ’n teken van ongeloof nie, maar van eerlike onsekerheid. Hy wil verstaan, nie net volg omdat ander só sê nie – inteendeel hierdie vraag lei tot Jesus se treffende woorde: Ek is die weg en die waarheid en die lewe.

Tomas figureer by verskeie sleutelmomente in Johannes. Wanneer Jesus besluit om na die graf van Lasarus te gaan, sê Tomas moedig: Laat ons ook gaan, sodat ons saam met Hom kan sterwe (Joh 11: 16). Ná Jesus se opstanding is dit weer Tomas wat worstel en eers wil sien voor hy kan glo (Joh 20). Tog is dit dieselfde Tomas wat uiteindelik die mees radikale geloofsbelydenis in die evangelie uitspreek: My Here en my God! (Joh 20).

Sommige Christene in ons tyd beskou aanvegtinge soos onsekerheid, vrae en twyfel as ’n swakheid. Maar Tomas wys ons dat eerlike vrae die pad na die ware Weg oopmaak. Om te erken: Here, ek weet nie, is nie om weg te beweeg van geloof nie, maar om opreg na Christus toe te draai.

Jesus roep ons nie om elke tree op ons lewenspad te verstaan nie. Hy roep ons om Hom te ken en te vertrou. Selfs as die pad voor ons donker is, bring die Weg ons veilig huis toe.

Mag ons, soos Tomas, nie bang wees om eerlik vrae te vra nie. Wanneer ons dan die Weg herken – met oorgawe te bely: My Here en my God! (Joh 20).

Dr André Ungerer, Hervormde Teologiese Kollege