Johannes 17

Ons lees in die Nuwe Testament hoe Jesus na die Vader gebid het en ons neem waar van wat in Jesus se hart woon, wat hy koester, en selfs wat sy hoop vir die toekoms is. Ons hoor vir die eerste maal in Johannes 17 hoe Jesus ’n gebed vir my en jou opdra aan die Vader. Jesus wend sy aandag na ons en hy doen voorbidding vir ons: Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom. Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees net soos Ons een is (Joh 17: 20-22).

Maar as ons as gelowiges hierdie gebed van Jesus as voorbeeld moet volg, kan dit ons leer dat ons ook met die Here moet praat oor dié rondom ons. Dat ons ook ons aandag moet swaai van ’n gebed vir slegs myself na ’n gebed vir my en ander. Jesus bid vir eenheid onder ons, maar waarom van alle dinge waarvoor Jesus vir ons kon bid, sal hierdie die saak wees wat aan die Vader opgedra word?

Jesus het ons menslikheid raakgesien en veral die menslike instink om te verdeel. Hy bid dat die eenheid onder ons alle verskille mag oortref. Dit beteken dat mense iets van God se natuur in ons sal raaksien as ons eenheid onder mekaar toepas, maak nie saak hoeveel dinge ons dink ons verdeel nie. Want wie ons verenig, is magtiger as wat ons moontlik van mekaar kan skei.

Gebed

Heilige Vader, werk vandag deur ons soos wat ons hierdie dag aanpak met die oog op voorbidding vir ander. Help ons om ander aan U op te dra nes U ons opgedra het aan die Vader. Amen.

Ds Iwana Kruger, Pretoria-Oos