Jeremia 29: 1-19
Hoofstuk 29 vertel van ’n brief wat Jeremia uit Jerusalem skryf aan die ballinge in Babel. Hy gee aan hulle ’n opdrag deur wat van die Here af kom. Hierdie opdrag herinner baie duidelik aan God se opdrag aan die mens in die tuin van Eden. Bewoon, bewerk en bewaar. Dan lees ons dat die Here vir hulle die opdrag gee om die belange van die stad waarheen Hy hulle gestuur het, te bevorder. En ook: Bid tot my vir daardie stad, want sy belange is ook jul belange. Hy waarsku ook dat hulle nie moet luister na die vals profete wat sê dat hulle in opstand moet kom nie, want, sê hulle, die ballingskap sal van korte duur wees. Die Here laat weet deur Jeremia dat dit nie so is nie.
Dan volg ’n belangrike boodskap: Hulle moet besef dat hulle vir sewentig jaar in ballingskap gaan wees. Dit is die gevolge van hul ongehoorsaamheid, Maar, sê die Here in vers 11, Ek weet wat Ek vir julle beplan het, voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee. ’n verwagting! Dit was God se plan met sy mense.
Met hierdie brief sê die Here vir hulle, aanvaar die ontwrigting, moet julle nie daarteen verset nie. Aanvaar die skuld wat julle daaraan het en wanneer daar ’n ommekeer kom, sal die uitkoms en God se belofte waar word, soos wat sy bedoeling met hulle van die begin af was.
Die Here sou met hierdie volk oor begin. Hulle sou verstaan dat die verbond oor ’n verhouding met God gaan. Hierdie keer sou die Woord van die Here nie op kliptafels geskryf word nie, maar op die harte van sy kinders. Dit is wat Christus ook kom wys het. God se plan met die wêreld sluit redding in op grond van sy liefde. Dit is die verhouding wat Hy met sy mense wil hê. Deur Christus se dood kom daar hoop en die verwagting van ’n ander, ’n nuwe toekoms!
Ds Manda le Roux, Weskus