Galasiërs 5: 22-23 (AFR2020)

Maar die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen hierdie soort dinge is daar nie ’n wet nie.

Paulus onthul hier die kenmerke wat sigbaar word in die lewens van húlle wat vervul is met die Heilige Gees. Dis egter interessant dat Paulus, alhoewel hy verskeie kenmerke noem, in die enkelvoud praat. Hy praat van die VRUG (nie vrugTE nie) van die Gees. Is dit ’n spelfout? Nee. Daar is inderwaarheid net één vrug van die Gees, en dit is LIEFDE. Al die ander kenmerke is verskillende kante van die liefde. So is blydskap een kant van die liefde en sagmoedigheid weer ’n ander kant van die liefde, ensovoorts.

Gelowiges wat met die Heilige Gees vervul is, dra die liefde van God (agape) binne hulle. Die uitloopsel van hierdie liefde is die verskeie kante van agape. Sien, die Heilige Gees transformeer ’n mens van sondaar na kind van God, en kinders van God is veranderde mense wat met hul vrugdraende lewe en handelinge verandering in ander mense se lewens en omstandighede probeer bewerk. Dit kan eintlik nie anders nie. Liefde baar onbaatsugtigheid. Uit liefde kom deernis voort, en ’n diepe besorgdheid oor die welsyn van ander. Liefde bring die vreugde en vrede voort wat alle verstand te bowe gaan – soos Paulus ook in Filippense 4: 7 sê. Liefde is die dryfkrag agter alle ander verskynsels van die een vrug van die Gees. Liefde dring deur elke aspek van die gelowige se lewe en verhoudings.

Wat Paulus hier leer, is so anders as wat ons in die wêreld vind. Die verskillende kenmerke van die vrug van God se Gees is nie afhanklik van eksterne faktore nie. Vriendelikheid verander nie in onvriendelikheid net omdat iemand my sleg behandel nie. Ek bly goed doen selfs as iemand my beledig. Vrede is nie bloot die afwesigheid van konflik nie, maar vir die Geesvervulde ’n gevoel van heelheid en harmonie wat voortspruit uit versoening met God.

Die vrug van die Gees is soos vrugte aan ’n boom – jy word daardeur uitgeken.

Ds Dawie Jacobs, Emeritus