Sefanja 3: 14-20

Sefanja beskryf die teenwoordigheid van die Here met ’n pragtige belofte: Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou. Dit is ’n belofte wat vir elke gelowige van God geld. Dis ’n daaglikse herinnering. Die boodskappe wat Sefanja in die teks beklemtoon, is dat God getrou is. God tree op en stel onreg reg. God is aktief in sy geregtigheid en regverdigheid. Soos Hy van ons verwag dat ons reg sal doen, só sal Hy self altyd reg laat geskied, al sluit dit ook in dat Hy straf en optree om deur die straf situasies reg te stel. Wanneer die tyd daar is, sal die Here hul lot verander. Die dag van die Here, wanneer God ingryp, is ’n werklikheid. Hierdie dag van die Here is gevul met oordeel en genade. God se oordeel is ’n terugkeer wat tot bekering kan lei. ’n Tyd gevul met goedheid en afwending van die oordeel van die Here. Groei en vergifnis in plaas van straf. Wanneer die dag van die Here aangekondig word, skep dit dus die tyd vir mense om opnuut na God te draai en God se grootheid vas te gryp. Dit is God se bedoeling om verlossing te skenk en heling te bring.

Die kerngedagte van die teks beklemtoon God se teenwoordigheid: Die Here God is by jou.

Vandag lees ons teks deur die bril van die Adventstyd. Die bril van beloftes. Wanneer Jesus gebore word, is dit ook deel van die aankondiging. Hy is God by ons. Ons leef in God se almagtige geselskap. Christus se koms, waaraan ons in Adventstyd dink, bevestig met vandag se teks God se beloftes van ’n einde aan die oordeel en die begin van ’n lewe in Christus. Dit is die moeite werd om Sefanja 3: 14-20 te oordink en met jou saam te dra as motivering, gebed, troos en gerusstelling.

Ds Denise Schmidt, Jeffreysbaai / Port Elizabeth