Lukas 17: 5-10 (AFR2020)
Dikwels gebruik Jesus beelde vanuit die natuur wanneer Hy na geloof en navolging verwys. In Lukas 9: 57-62 reageer Jesus op die stelling Ek sal U volg. Jesus antwoord: Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die Mens het geen plek waar Hy sy kop kan neerlê nie.
Ons lees die vraag van die dissipels: Hulle wil meer geloof hê. Jesus het kritiek op die versoek en vervolg met die vermaning oor hul gebrek aan ’n minimale of klein bietjie geloof. Sy kritiek is dat hulle nie veronderstel is om beloning en lofuiting vir geloofsdiens te verwag nie. Geloof is nie ’n prestasie of die een of ander toekenning wat jy ontvang nie. Ook ons sug soms en vra vir meer geloof. So asof baie geloof meer betekenis het. Wat is dit eintlik wat ons wil hê? Geloof is vir party slegs iets van ’n mistiese ervaring. Amper soos ’n dwelm wat ’n mens gebruik en wat jou help om te oorleef. Vir ander net ’n middel tot oorlewing van die aardse lewenstryd. Natuurlik word sommige gelowiges opgesweep en verseker van bevryding van siektes en twyfel en ekonomiese swaarkry. Geloof is egter nie ’n towermiddel nie.
Geloof so klein/nietig/min soos die grote van ’n mosterdsaad, en beskeidenheid in die uitlewing van ons geloof en dissipelskap, is al wat nodig is. God se genade is genoeg. Ons geloof se grootheid en hoeveelheid is nie ter sake nie. Selfversekerheid en skouspelagtige geloofsvertoning is nie nodig nie. Geloof is sigbaar in ons daaglikse getrouheid en diens aan Hom. Selfs die mosterdsaad is deel van sy skepping. Dit is nie nodig vir skouspelagtige spiritualiteit nie. Die genade van God wat Hy aan ons voorsien vir ons mosterdsaadgeloof, word gevolg deur gewone dissipelskap. Lewe in geloof tot sy eer.
Dankie dat u Seun, o Vader, God is, en ook ware mens;
dankie dat u Gees genadig hoop laat vlam oor tyd en grens.
U is trou; U behou; wat ons glo, sal ons aanskou!
(Gesang 502: 5)
Ds Kathleen Smith, Kaapstad