Matteus 4: 1-11
Dit is vandag Aswoensdag, die eerste dag van die 40 dae wat oploop na die Paasgebeure toe. Dit is ook die gebruik om met as die teken van die kruis op ons voorhoof of hand te maak. Ons gebruik as om ons daaraan te herinner dat ons van stof is en weer na stof gaan terugkeer. Dit is die een kant van ons identiteit. Ons maak die teken van die kruis om ons daaraan te herinner dat God ons deur die dood van sy Seun kom nuutmaak het. Dit is ook deel van ons identiteit. In hierdie 40 dae moet ons daarop fokus om dit wat ons verhinder om soos nuwe mense te leef, te identifiseer en agter te laat.
Tradisioneel staan ons vandag ook stil by Jesus se versoeking in die woestyn. Die Versoeker vra ook ’n vraag na identiteit. Vir 40 dae vas Jesus en dan val die Versoeker in met die vraag oor brood: Sê vir die klippe om brode te word. Maar Jesus antwoord ’n mens leef nie net van brood nie. Die tweede toets lê op die gebied van mag: As U die Seun van God is spring hier af, en derdens wil hy aanbid word.
Telkemale antwoord Jesus uit die Skrif en wys Hy dat Hy getrou is aan God se wil. Sy gehoorsaamheid aan God bevestig dat Hy die Seun van God is.
Dit is die bevestiging regdeur die evangelies. Tydens sy dood is God se stem hoorbaaar: Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Petrus antwoord op die vraag wie Jesus is dat Hy die Christus is en aan die kruis spot hulle: As U die Seun van God is klim hier af, maar dan refrein die woorde wanneer Hy sterf: Waarlik Hy was die Seun van God.
Deur Christus word ons verloste kinders van God. Fokus in hierdie 40 dae op jou nietigheid en verganklikheid as mens, maar dan ook op die verlossing wat deur die Seun van God gekom het.
Ds Manda le Roux, Weskus