’n Vierde ent: Dienaarskap word deel van jou doen en late deur die dag heen. Die Heilige Gees herinner jou aan die leer en lewe van Jesus Christus waar ook al jy gaan, nie slegs wanneer jy stiltetyd hou nie.

“As julle My liefhet, sal julle my gebooie onderhou. En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ’n ander Parakleet gee, sodat Hy vir ewig by julle kan wees. Hy is die Gees van die waarheid, wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat die wêreld Hom nie sien nie en ook nie ken nie. Julle ken Hom egter, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. … Die Parakleet, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle in alles onderrig en julle aan alles herinner wat Ek vir julle gesê het.” (Joh 14: 15-17 en 26, AFR2020).

Die kort entjies van jou daaglikse gebed begin nou ’n geheel vorm – stilwees, afsondering, verbondenheid, dienaarskap – waarmee jy deurlopend in jou dag kan wandel. Ek wil jou insig gee, Ek wil jou die pad leer wat jy moet loop. Ek wil jou raad gee, my oog oor jou hou (Ps 32: 8, AFR2020).

Bly vandag deurgaans bewus van jou herhaling in hierdie wandeling saam met God. Hoor die engelekoor waar jy is: Kom loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God, in die hoogste hemel!

Dr Pierre Jacobs (jr), Gaborone