Psalm 19: 8-12
Die tweede gedeelte van Psalm 19 beskryf die waarde van God se wet. Die wet waarna hier verwys word, is die Torah, die eerste vyf boeke van die Bybel waarin die wet volgens die antieke Israeliete opgeskryf is. Vir ons as Christene beteken die wet egter meer as net dit. Dit is eerder die hele Woord, die ganse openbaring van God, wat tot finale uitdrukking kom in Jesus Christus, die vleesgeworde Woord.
Dit klink seker vreemd om van Christus as die openbaring van God se wet te praat. Baie maal word die vryspraak van Christus gebruik as verskoning om in sonde te volhard. Die apostel Paulus vra egter in Romeine 6: 1: Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? En in Romeine 6: 15: Kan ons nou maar sonde doen omdat ons nie onder die wet van Moses staan nie maar onder die genade? Beslis nie. Daarom is dit nodig om genuanseerd te praat oor God se wet.
Tradisioneel word die gebruike van die wet in drie verdeel. Eerstens is dit as die basis van ’n samelewing se wette met die doel om ongeregtigheid te voorkom. Die tweede gebruik is om die gelowiges te leer wat sonde is. Die derde gebruik is as reël van dankbaarheid. Dit is veral in die derde gebruik dat ons Christus leer ken. Paulus sê in Galasiërs 3: 23-24 (AFR53) dat voordat die geloof gekom het, is ons onder die wet in bewaring gehou… Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof.
Ons kennis van die sonde dryf ons dan die arms van Christus in, om daar ons verlossing te soek en te leer hoe om ’n lewe uit dankbaarheid te lewe. Daarom dat ons saam met die Psalmdigter kan bely: Die bepalings van die Here is reg: … Hulle is kosbaarder as goud… Wie dit alles onderhou, groot is sy beloning (Ps 19: 10, 11, 12).
Ds Willem Dreyer, Groot Marico