Johannes 20: 19-31
Ontvang die Heilige Gees! (Joh 20: 22). Dié woorde van Jesus Christus volg op sy verskyning aan die dissipels in Jerusalem. Dit is woorde wat Hy as opgestane Here aan ’n klein groepie manne rig. Wie die woord spreek, wie dit ontvang en wat gesê is, is deel van Johannes se getuienis oor wie Jesus is.
Die dissipels bevind hulle in ’n onmoontlike situasie. Die Here Jesus Christus is gekruisig en die gevaar dat die Jode dieselfde met sy volgelinge wil doen, is vir die dissipels werklik. Met sy eerste verskyning klink die groet: Vrede vir julle! (Joh 20: 19), en daarop wys Hy sy wonde. Die haat en hoon van die wêreld, die verwerping deur die mens en die vloek op die sonde het Hy gedra. Dit is verby. Boonop laat Hy Hom nie deur die onmoontlike situasie verhinder nie, en dit sluit ook die mens se vrees en twyfel in. Die groet, Vrede vir julle!, vloei voort uit dit wat afgehandel is, die oorwinning van die sonde en die dood, en hierop skenk die Here sy Gees aan die dissipels.
Die opstellers van die Niceense geloofsbelydenis in 325 nC in Nicea en later in 381 nC by Konstantinopel het terdeë daarmee rekening gehou dat die Heilige Gees nie ’n goddelike krag buite Jesus om is nie. Die Heilige Gees is altyd die Gees van Christus wat na die mens uitreik en die mens oproep. Om daarteen te waak dat die Heilige Gees ’n mistiese krag word, het die kerk bely dat die Heilige Gees nie net van die Vader uit gaan nie, maar ook van die Seun.
Dit is die werk van die Heilige Gees om wat Jesus Christus gedoen het, duidelik te maak: Hy het tussen God en die mens vrede geskep. Deur die Heilige Gees word die dissipels uit hul vrees gelei en getuies gemaak van die vrede met God, en hiervan is die opstanding die vrug.
Gesang 440
Dr Christo Pretorius, Pretoria / Wonderboom-Suid / Hervormde Teologiese Kollege