2 Samuel 12: 19-24

Hierdie gedeelte van Dawid se lewe kan ons nogal aan die wonder sit, maar daar is ’n kragtige beginsel wat vir ons hier uitstaan. Dawid het drooggemaak, en het ook die gevolge daarvan gedra. Die wyse waarop hierdie dieptepunt van sy lewe afspeel, is wel aangrypend. Dawid erken sy sonde en saam met Psalm 51 sien ons dat hy berou getoon het, homself verootmoedig het, gebid en gevas het en dit volledig gedoen het vir sewe dae tot op die punt waar hy hoor die kind het heengegaan. Sy dienaars is geskok, want hulle verwag toe dat Dawid se reaksie op die nuus sy optrede net nog dieper gaan laat val in ’n gat van selfbejammering, rou en bitterheid – maar Dawid doen dit nie.

Hy tree heeltemal teenoorgesteld op. Toe hulle hom daaroor vra het hy erken dat, alhoewel die Here se uitspraak daar was, en reg en regverdig, het hy steeds gedoen wat hy kon doen om die kind se lewe te red. Die oomblik toe hy besef die geleentheid daarvoor is nou verby, het hy nie in daardie magteloosheid bly lê nie, hy het letterlik opgestaan, homself gaan was en voorberei om die Here in die heiligdom te gaan aanbid. Nadat hy klaar gebid het, het hy terugbeweeg om vir Batseba in haar trauma te gaan bystaan en troos.

So wat leer ons? Daar kom hoofstukke in ons lewe waar ons ook magteloos is. Dawid leer ons om in daardie hoofstuk te doen wat ons kan doen, in kontak met die Here, en wanneer die geleentheid verby is, staan ons op, gaan bid en doen die volgende regte ding. So ook sien ons by Dawid dat ons ons foute erken, ons leer daaruit, en dan los ons dit daar. Paulus leer ons ook dat Jesus se opstanding juis daardie geleentheid vir ons gee. Om die ou self ook te laat sterf en dan in Christus as ’n kind van die Here op te staan. Mag ons leer om uit ons berou op te staan, opnuut te gaan bid en dan te gaan regmaak.

Ds Schalk Zastron, Ermelo / Ermelo-Suid