1 Samuel 8: 1-10 en 22

Kerstyd is ’n tyd van blydskap, maar dit is ’n blydskap wat ’n mens nederig maak. Dis ’n skaam-vreugde, veral as jy begin verstaan waaroor Kersfees regtig gaan. Ons dink baie keer ons verstaan waaroor dit gaan… Dit gaan mos oor die Seun van God wat mens geword het. Dit beteken egter nog nie dat ons werklik verstaan nie! Verstaan ons byvoorbeeld dat dit gaan oor ’n Koning wat teruggestaan het? Stel jou voor, ’n koning wat terugstaan – dit is totaal ondenkbaar, irrasioneel, onlogies. Want in ons perspektief moet ’n koning mos opstaan vir wat syne is en vir wat reg is, nie een wees wat terugstaan nie.

In 1 Samuel 8 sien ons die volk verwerp God as Koning, hulle het ’n aardse koning gesoek, soos die ander volke. Dan lees ons dat God hulle hul sin gee. Die Here staan letterlik terug vir ’n ánder koning. Hy offer op, Hy buig agteroor vir die volk, en Saul word as koning aangewys.

Dit is ook wat in Betlehem gebeur het met Jesus se geboorte. Die ware Koning word gebore, en staan terug. Hy word nie in weelde gebore nie, nie in ’n koningshuis nie, Hy word uitgelewer en gekruisig, sodat ons as verlostes kan leef. Verstaan jy waarom Kersfees ’n skaam-vreugde is? Ons is dankbaar en gevul met vreugde, ons Koning en Verlosser is gebore, maar ons is skaam dat ons Hom nie die ereplek in ons lewens gee nie. Hy het ons gered van die sonde, maar ons leef nie soos mense wat gered is nie.

Die boodskap en appèl van die Bybel is nie om God te vertrou om vir jou iets te doen nie. Dit is om te ontvang van God reeds gedoen het. As Koning sal Hy vir jou terugstaan, maar jy sal Hom nie onttroon nie. Sy liefde vir ons is oneindig. Mag jy in hierdie afwagting (Advent) op Kersfees, weer iets van die Koning se liefde ervaar in jou lewe.

Ds Anneline Geyer, Kempton Park-Oos