2 Konings 4: 1-7
Die vrou is in die slegste moontlike posisie vir ’n vrou in die Ou Nabye Oosterse wêreld. ’n Weduwee wat op die punt staan om haar twee seuns as slawe aan skuldeisers af te staan. Sy bekla haar lot by die profeet Elisa. In die gebeure wat volg, Iê die boodskap van hierdie verhaal nie soseer net daarin dat die Here deur sy profeet hierdie vrou se lewe omdraai nie, maar in hoe Hy dit doen. Elisa vra: Sê vir my: wat het jy in jou huis? Sy antwoord: Ek het niks in die huis nie behalwe ’n erdekannetjie olie. En dit is waar die Here begin om die ommeswaai te bring, by dit wat sy tog nog het. Sy het geglo, ek het niks, miskien ook ek is niks. Maar die Here bewys haar verkeerd.
Dankie tog vir hierdie vrou se behalwe. AI is dit iets so klein en onbenullig soos ’n bietjie olie in ’n erdekannetjie. Dis hierdie behalwe van haar wat uiteindelik ’n deurslaggewende rol speel dat die Here haar lewensituasie radikaal kan verander. Ons glo ook soms dat ons niks van waarde het, of niemand van betekenis is nie, maar God fokus nie op wat ons nie het nie, Hy gebruik wat ons wel het. En dan word ons bietjies baie.
Jesus preek eendag by die meer en dit word donker. 5 OOO mans en hul gesinne is gestrand sonder kos. Jesus sê vir sy dissipels: Gee julle vir hulle iets om te eet. Die dissipels het seker ook gedink, ons het niks nie. Behalwe ’n seuntjie met vyf brode en twee visse. Maar wat is dit vir so ’n skare mense? En die res is geskiedenis.
Ons is dikwels so bewus van dit wat ons nie het nie, of nie kan nie, dat ons vergeet van dit wat ons wel het. Ons moet ook die krag van behalwe leer.
Gebed
Here, leer my dat ek nooit niks het of niks is nie, en dat U my bietjies baie kan maak. Amen.
Dr Gerhard Nel, Horison Roodepoort