Psalm 84
Wat behels ’n lewe naby aan God? Vir die digter van Psalm 84 is ’n lewe naby aan God ’n lewe in gemeenskap. Daar bestaan nie regtig in Hebreeus ’n woord vir gemeenskap soos ons dit vandag verstaan nie. Die mense van die Bybelse tyd se ganse bestaan was ’n gemeenskaplike bestaan. Hul identiteit is bepaal deur die groep of gemeenskap waarvan hulle deel was. Die woord hand word wel in Hebreeus gebruik om die begrip van gemeenskap mee uit te beeld. Om jou hand in iemand anders s’n te plaas en die pad saam met hulle te stap, is gemeenskap. Die Bybel verstaan hierdie hand-aan-hand-gemeenskap uiteindelik op twee vlakke: gemeenskap met God en gemeenskap met medegelowiges.
Gemeenskap met God behels ’n verskeidenheid van handelinge. Dit behels dat ons in verhouding met God sal lewe deur geloofsgewoontes te beoefen soos om te bid en Bybel te lees. Dit behels ook dat ons sal luister na die verkondiging van die Woord van God. Gemeenskap met God behels ook dat ons God aanbid in die erediens binne die gemeenskap van gelowiges, want op so ’n manier werk die Heilige Gees in mense se harte tot versterking in die geloof. Terselfdertyd bind gemeenskap met God mense ook aan mekaar. In geloof is gelowiges broers en susters. Ons onderlinge verhoudings, ons omgee vir mekaar, is ’n uitvloeisel van ons verhouding met God. Dit is hierdie meerdimensionele gemeenskap met God en medegelowiges waarna die Psalmdigter verlang.
Tog is baie gelowiges deesdae drumpelgelowiges. Met die een voet sogenaamd gelowiges, maar met die ander voet buite die gemeenskap met God en medegelowiges. Op die drumpel, maar nie binne nie. Wat verstaan ons werklik dan van geloof en gemeenskap? Met watter ingesteldheid leef ons wanneer dit kom by gemeenskap met God en met mekaar? Om naby aan God te leef, in sy teenwoordigheid, verander ’n mens se lewenskwaliteit. ’n Heel, gesonde en vervulde lewe in al sy dimensies is slegs te vind in gemeenskap met God en medegelowiges.
Gee vandag jou hand in gemeenskap met God en jou medegelowiges.
Dr Marina Kok-Pretorius, Potchefstroom / Hervormde Teologiese Kollege