Johannes 4: 1-26
Water – ons bron van lewe. Sonder water kan ons nie boer nie, ons kan nie eet nie, en ons kan nie oorleef nie. Ons is totaal afhanklik van water. Hoe dikwels het ons nie al gebid vir reën in tye van droogte nie? En hoe groot is die dankbaarheid wanneer die eerste druppels uiteindelik val.
Jesus reis deur Samaria – ’n gebied wat die Jode gewoonlik vermy het. By die fontein van Jakob vra Hy ‘n Samaritaanse vrou vir water. Dit verbaas haar want Jode en Samaritane het nie met mekaar gemeng nie. Jesus gebruik hierdie eenvoudige versoek om haar aandag te trek na iets baie dieper: Hy bied vir haar lewende water aan – ’n beeld van die ewige lewe wat Hy bring.
Soos baie van ons, verstaan die vrou eers net die letterlike betekenis van water. Maar Jesus praat van die innerlike vernuwing en volheid wat Hy alleen kan gee. Soos Psalm 42: 2 sê: Soos ’n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God. Net soos ons liggame dors na water, dors ons siele na God. Die water in die put verg moeite, en dit raak op. Maar die lewende water van Christus borrel op van binne soos ’n fontein– dit is genade sonder einde. Die Heilige Gees bring lewe, troos en hoop.
Hierdie ontmoeting met Jesus by die put het hierdie vrou se hele lewe verander. Grense is oorskry en Jesus het ware liefde met haar gedeel. Christus het die lewende water met haar gedeel. Uiteindelik het sy verligting beleef, ’n verligting soos as die reën uiteindelik na ’n baie droë jaar val.
Mag ons, soos die vrou by die put, Christus se ware liefde ervaar. En mag ons ook hierdie lewende water wat Jesus Christus vir ons aanbied met die wêreld daar buite deel.
Ds Tanya Maartens, Klerksdorp-Wilkoppies