Hebreërs 9: 23-28

Die kerk vier nie Hemelvaart met dieselfde entoesiasme as Kersfees nie. Ons weet nie regtig wat om met Hemelvaart te maak nie. Dit is dan seker ook die rede waarom lidmate die hemelvaart so afskeep. Maar Hemelvaart beteken nie net afskeid nie, dit is ook ’n nuwe begin. Die tyd van die deur die Heilige Gees geleide kerk het begin. Die nuwe tyd van God se geduld met die wêreld het dus aangebreek. In hierdie tyd moet die wêreld tot geloof geroep word. Getuienis van God se openbaring in Jesus Christus moet nou uitgedra en uitgeleef word. Die tyd van sien, is verby. Nou word geloof van ons verwag. In geloof lewe ons God se toekoms tegemoet.

Die harde werk het begin. Dit beteken ons moet ophou om net na die hemel te kyk. Ons moet begin om besig te raak met die diens van die evangelie. Ons moet getuig dat Jesus Christus die verhoogde en verheerlikte Here is wat ons Voorspraak by die Vader is. So bely ons ons geloofsekerheid, dat daar by God plek is vir mense soos ons.

Ons moet besef Christus is nie ’n herhalende offer nie, maar ’n Voorspraak vir God se kinders. So lê die Here beslag op ons en skakel Hy ons in by sy diens, en so leef ons dan in die ryk van sy genade. Dit is die vreugde van Christus, die volkome offer.

Gebed

Ons Vader, U verseker ons dat Christus nie in ’n tydelike heiligdom gaan dien het, in een wat deur mense gemaak is nie. Sy heiligdom is die hemel self en nie ’n namaaksel nie. Waar Jesus heengegaan het en nou self voor U staan, staan ons ook nou saam met Hom voor U. U Woord bevestig dat Hy nie sy werk om ons sondes af te was oor en oor hoef te doen nie. Sy eie, volmaakte lewe is die finale betaling van ons skuld. Daarom voeg ons niks by sy offer om dit aan te vul nie. Amen.

Dr Johan Bester, Randfontein Midpark / SGB