Handelinge 2: 37-47 en 6: 1-7
Die tweede deel van sorg vir mekaar, kan ons dalk eerder met die woord diens omskryf. In teologie noem ons dit diakonia. Hier het dit meer te doen met die fisiese van dag-tot-dag-onderhoud van mekaar. Dinge wat ons kan sien wat gedoen en gegee word. As ’n mens net dink aan die woord diakens, sal jy sommer dadelik weet waaroor dit hier gaan. Dink maar net wat die diakens se werk is: Hulle is juis van daardie eerste gemeente se tyd af aangestel sodat daar iemand kon wees wat in die besonder na behoeftiges en weduwees kon omsien.
Die kwalifikasies vir ’n diaken word gevind in 1 Timoteus 3: 8-13. In die meer tegniese definisie is ’n diaken iemand wat die fisiese behoeftes van die kerk bedien, in teenstelling met die ouderlinge/pastors wat na die geestelike behoeftes van die kerk omsien. Beide die fisiese en geestelike bedieninge kan egter deur die woord diakonia beskryf word.
Gemeentelede moet nou egter nie dink dit is nét diakens wat hierdie diens moet verrig nie. Gelukkig, sover ek kan sien en beleef, is daar baie gelowiges – gemeentelede – wat op materiële vlak na hul mede-gelowiges omsien.
Op ’n ander punt: Nagmaaletes is iets wat ons almal seker goed ken. Al lyk dit dalk na ’n minder belangrike aktiwiteit in ’n gemeente, is dit tog wel ’n betekenisvolle handeling wat plaasvind. Die opmerking in ons teks dat die gelowiges hulle onder andere toegelê het op die onderlinge maaltyd, het sekerlik aanleiding gegee tot hierdie mooi gewoonte.
Ongelukkig is daar ook diegene wat goed doen om gesien te word – duidelik dus nie met die regte gesindheid en hart nie. Dink maar hier aan mense wat graag met selfoon in die hand, honderde en soms duisende rande vir behoeftiges langs die straat gee. Ek dink nie dat dit in hierdie gevalle altyd gaan oor diens nie… Kerkmense – gelowiges – moet mekaar dien, nie hul eie beuel blaas nie.
Ds Hannelie Botha, Beroepafwagtend