Psalm 8: 1-10
Ons lees vandag weer Psalm 8, maar vanuit ’n ander perspektief. Die psalmdigter dink oor sy lewe: Here wat is die mens tog? As ek kyk na die werk van u vingers, die maan, die sterre, die groter geheel, wat is ek tog? ’n Verbygaande spikkeltjie. Die grootse geheel, die onmeetlike die grootheid van God, laat my in perspektief verklein. En wanneer ek myself so klein sien, is ek bewus van my afhanklikheid van die groter geheel en van die God in wie se teenwoordigheid ek leef.
Ons maak so maklik die fout om net in jou klein lewetjie vas te kyk, na die geskarrel en gejaag – na die ritme en polsslag van die stadslewe waar jy altyd een oog op die horlosie het, dat ’n mens verlei kan word om te dink dat dit die lewe is. Daarom is dit belangrik om Psalm 8 ook te lees vanuit die perspektief van kyk wyer, sien breër.
Die hele wêreld draai nie om my en my geskarrel nie. Ek is maar hoogstens een van die skepsels van die lewende God. Dit is juis hierdie gewaarwording wat die digter laat sê: Dankie dat U my nogtans hier gewil het. Dat U my hier voor U laat mens wees. Die profeet Habakuk klim hoog op sy wagtoring om te sien wat dit is wat die Here tot hom wou spreek. Hy onderbreek sy normale roetine om net met die Here te wees. Van Jesus lees ons in die evangelies dat Hy graag van tyd tot tyd alleen eenkant toe gegaan het om te bid.
Soms is stiltes nodig om jouself weer te vind en bewus te word van die groter geheel waarin jy beweeg – om weer mens te word, om weer jou afhanklikheid van die groter geheel te besef.
Gebed
Here, help my om in ’n besige wêreld en ’n vol program gereeld voor U stil te word om telkens weer my deel wees van die groter geheel te onthou, en hoe afhanklik ek van U is.
Dr Gerhard Nel, Horison Roodepoort