Hebreërs 10: 19-25
Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, en dit op ’n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam.
Die oomblik toe Jesus sy laaste asem aan die kruis uitgeblaas het, het die voorhangsel wat die allerheiligste deel van die tempel en die res van die tempel geskei het, van bo na onder geskeur. Die allerheiligste kon slegs een maal per jaar deur die hoëpriester binnegegaan word nadat hy hom gereinig het. Hy moes ook ’n bietjie bloed saamneem om op die verbondsdeksel van die verbondsark te sprinkel ter versoening van die volk se sondes.
Nadat Jesus aan die kruis gesterf het, is daar eens en vir altyd versoening gebring vir ons sondes. Aan die kruis het Jesus die pad vir ons oopgemaak na die allerheiligste en kan niks ons meer van God skei nie. Ons kan nou met vrymoedigheid na God toe gaan. Ons kan voluit in sy teenwoordigheid leef, want daar is niks wat ons van sy liefde kan skei nie, en ons het nie ’n priester of enigiemand anders nodig om namens ons met God te praat nie. Selfs in die kerk het ons nie meer ’n spreekbuis nodig nie.
Benut en waardeer ons egter hierdie genadegawe? Praat ons enige tyd, enige plek, binne alle omstandighede met God, of plaas ons daardie verantwoordelikheid steeds op die dominee of die kerkraad se skouers? Woon ons gereeld die eredienste by om geestelik gevoed te word en uit dankbaarheid dat God nie meer ontoeganklik vir ons is nie, of is ons vrye toegang vir ons vanselfsprekend?
Gebed
Here, dankie dat U vir ons vrye toegang tot U verseker het aan die kruis. Dankie dat ons met vrymoedigheid tot U kan nader enige tyd, enige plek. Amen.
Ds Marissa Kidson, Pretoria-Wes