Meimaand, en in baie huisgesinne word planne gemaak om ’n mamma te trakteer, en geskenke te koop…
Ek het al in winkels gestaan en gehoor hoe egpare stry. Selde oor die geskenk te klein is – meestal: Vir wat so ’n duur geskenk, wat doen sy ooit vir ons? Dis vir jóú ma, maar wat van myne?
En dan voel ek hoe my oë begin brand. Waarom iets vir iemand koop as dít is hoe jy oor die persoon voel? Geveinsde goedgunstigheid is ’n nare ding.
So, hoe dan? Wat koop jy dan? Wat gee jy vir iemand as die koste ’n strydpunt is, of as jy dalk glad nie eens van die persoon hou nie?
Dan sekerlik eerder niks.
Maar wie sê sy wil regtig ’n materiële geskenk ontvang? Ten spyte van al die mooi goed, boeke, blomme, sjokolade, wat is kosbaarder, wat wil mammas dalk eerder as geskenk ontvang?
Ons word gebombardeer met so baie woorde, so baie uitsprake, en tog bly so baie woorde ongesê.
Wat van ’n keer net sê: Dankie, Mamma!
Dankie, Ma, vir die hand vashou toe ek klein was en ons oor die straat wou kom. Dankie vir die drukkie nadat ek geval het en die stukkende knie soos die einde van die wêreld gelyk en gevoel het.
Dankie dat ek by Ma kon leer hoe om te stryk, kos te maak, koek te bak…
Dankie vir die uitstappies biblioteek toe, en die liefde vir lees.
Dankie vir die dáár wees, selfs wanneer Ma oneindig moeg is. Dankie vir die geduld én die aanmanings, die lag én die trane.
Wat sou die mamma veral ook van haar kinders wou vra?
Wees goed vir mekaar, my kinders. Dra mekaar op die hart. Gee my kleinkind(ers) ’n kennis van en liefde vir die Here, vertel hulle wie die mooi blare en die vrolike voëltjies en die kwaai donderweer gemaak het. Hou hulle warm, versorg hulle goed, wees geduldig met klein mensies, behou die liefde.
Onthou dat ’n sagte woord soveel meer regkry as ’n emosionele uitbarsting. Kies jul vriende versigtig, loop die regte pad, jou eie pad. Wees vriendelik met almal, maar wees ondergeskik aan geen mens nie.
Hou altyd moed, al lyk die toekoms soms donker. Al woed daar oorloë en stel mense jou elke dag teleur, hou jou oë gerig op die einddoel.
En weet dat jul ma vir julle bid – altyd en onophoudelik. Ook soos in Dalene Reyburn se mooi gebed (vertaal deur Madeleen Botha):
Hemelse Vader,
dankie vir my familie-erfenis.
Dankie dat U alles
ten goede laat meewerk –
selfs die skoonfamilie
en dié wat ’n bietjie vreemd is.
Help my en my kinders
om bewus te wees
van die seëninge en die grense
van ons familie.
Help ons om nooit te oorreageer
of te onderwaardeer nie.
Help my om maklik te vergewe
en om vinnig te vergeet.
Help my om wys en warm en goedhartig te wees.
Want: Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het (1 Johannes 4: 19).
(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

Noudat my ma nie meer daar is nie, wens ek ek kon nog net een keer vir haar sê hoe lief ek haar het… Doen dit so dikwels as jy kan.💕