Meer as 12 000 geboue is in die Los Angeles-brande vernietig. In ses dae sterf 24 mense. 92 000 Mense moes hul huise verlaat om waarskynlik nooit weer terug te gaan nie.  

My sosiale media is vol berigte oor die brande en die een wat uitstaan: God laat nie met hom spot nie. Die argument ontgaan my. Is God vies omdat niemand oor Hom tweet nie of omdat dit op die Oscars spottenderwys genoem is? Sekerlik staan die spotters en kyk na hul huise in as en moet wonder, maar hulle het die fondse om môre weer huise op te rig, dalk nog groter en mooier. Die sogenaamde supersterre wat God spot het eerste met stralers uitgevlieg. Dit is die weerloses op straat wat beseer is en eerste gesterf het. Die bejaardes wat alles verloor het. Duisende Christene wat hul huise verloor het en nie die fondse het om dit te herbou nie. Ons maak God kleinlik en Christene word die selfaangestelde regters van God. 

Hollywood is dalk die nuwe Sodom en Gomorra. Kom ons gaan lees weer daardie ou-ou verhaal. Abraham pleit by God vir die mense van Sodom en Gomorra: Sal U die regverdiges saam met die goddeloses vernietig? Miskien is daar vyftig regverdiges in die stad. … U sal tog nie die die regverdiges soos die goddeloses behandel nie! Sal die regter van die hele aarde dan nie reg laat geskied nie? (Gen. 18: 23, AFR1983).

Die Here het geantwoord dat Hy die stad vir 50 regverdiges sal spaar. Uiteindelik was God bereid om die stad vir tien regverdiges te spaar. Wanneer die stad vernietig word, begelei die engele Lot voor die vure uit. 

Die Regter van die hele aarde wat sy Seun gegee het om die wêreld te red, is nie nydig as sy ego gekrenk word nie.

Die realiteit is dat die mens seer het en gekrenk is. Die mens is moedeloos met al die onreg en euwel. Ons wil God aanpor om die onreg te vernietig. God is nie ’n mens nie: Hy dink nie soos ’n mens nie, tree nie op soos ’n mens nie. Genadiglik nie.

Mag ons in ons harte liefde en omgee vind vir die slagoffers van Los Angeles. Mag die onregverdiges die liefde van die regverdiges ervaar en sien en God se gesig daarin vind.

Mag ons gebede wees vir elke slagoffer in Los Angeles. Mag ons gebede wees met elkeen wat teen die brande geveg het en verloor het. Mag ons gebede saam met elke mediese personeellid wees wat brandwonde moes verbind en sterwendes se hande vashou.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap