Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het besluit dat die Hervormde Kerk in 2024 deelneem aan die herdenking van die eerste AKV wat in 1824 vergader het.
Die AKV van 1824 was die eerste sinodale vergadering in die geskiedenis van Suid-Afrika. Tydens die AKV van 1824 is ’n kerkorde vir die Hervormde Kerk opgestel. Die titel van die kerkorde was Algemeen Reglement voor het bestuur der Nederduitsche Hervormde Kerk, in Zuid-Afrika, ontworpen in de Algemene Kerkvergadering, gehouden binnen de Kaapstad, op den 2 November, en volgende dagen van het jaar 1824.
Dit is belangrik dat die Hervormde Kerk, as een van die reformatoriese kerke in Suid-Afrika, hierdie historiese gebeurtenis met dankbaarheid herdenk. Dit sal ook deur ander kerke, soos die NG Kerk, herdenk word omdat dit ’n belangrike deel van ons gemeenskaplike erfenis vorm.
Die volgende projekte word in die vooruitsig gestel:
- Kerkrade word versoek om eredienste op Hervormingsondag (27 Oktober 2024) só in te rig dat die gebeure van 2 November 1824 aan die orde kom.
- ’n Nasionale feesdiens sal op 3 November 2024 in Pretoria plaasvind, en die NG Kerk word versoek om ’n soortgelyke geleentheid in Kaapstad te reël.
- ’n Boek met die titel Geskiedenis van die Hervormde Kerk 1824 tot 2024 sal teen September 2024 beskikbaar wees. Die boek beslaan meer as 300 bladsye en vertel die verhaal van die Hervormde Kerk aan die hand van belangrike besluite van die AKV.
- ’n Konferensie vir lidmate en predikante waaraan kerkhistorici sal deelneem, word vir November 2024 beplan. Die konferensie word aangebied deur die Hervormde Teologiese Kollege, die Sentrum vir Reformatoriese Teologie en die Kerkhistoriese Genootskap.
- Daar word deurlopend artikels in die kerklike tydskrifte soos die Almanak en Die Hervormer
- Tans word die moontlikheid ondersoek om ’n Junior Algemene Kerkvergadering te organiseer, waaraan jongmense kan deelneem en waar hulle kan praat oor die toekoms van die Hervormde Kerk.
- Die ringsvergaderings van 2024 kan daadwerklik aan die saak aandag gee, onder andere om weer (soos in die verlede) verteenwoordigers van die susterskerke uit te nooi om dit by te woon, maar veral om verteenwoordigers van die Maranatha Reformed Church of Christ, voorheen die Hervormde Kerk in Suidelike Afrika, uit te nooi om die ringsvergadering by te woon. Die MRCC het ontstaan vanweë die sendingwerk van die Hervormde Kerk, en dit is belangrik dat die verhouding weer versterk word.
- Die moontlikheid van gesamentlike byeenkomste met ander kerke word ondersoek, en kan ook op plaaslike vlak plaasvind. Dit kan die band tussen die reformatoriese kerke versterk.
(Dr Wouter van Wyk is sekretaris van die Kommissie van die AKV)