Om die geskiedenis (“historiese” verhaal) van Jesus te vertel, is moeilik en ons moet altyd onthou dat die vier Evangelies elk met sy eie doel en aard geskryf is. Daarom kom verskille voor en ons lees van gebeure waarvan nie in al die Evangelies vertel word nie.
Van Betlehem tot Jerusalem (Matteus tot Johannes)
Voor die geboorte van Jesus word ons vertel van ’n ander spesiale seuntjie wat gebore word. Hy word Johannes genoem, en ons leer hom later as Johannes die Doper ken. Hy was ’n gewilde profeet onder die volk en hy verkondig dat die mense moet ophou sondig en hulle laat doop, want die Messias, die Verlosser, is op pad. Later doop hy ook vir Jesus in die Jordaanrivier. Johannes was ’n vreeslose profeet, en dit lei uiteindelik tot sy dood. Herodes het hom gevange geneem en laat onthoof.
’n Engel verskyn aan ’n jong meisie, Maria, en vertel haar dat sy swanger sal word, dat sy ’n Seun sal hê en dat Hy die Verlosser sal wees. Haar verloofde, Josef, bly by haar al was hy nie die vader van die kind nie. Josef en Maria moes na Betlehem gaan omdat daar ’n volkstelling gehou is. Terwyl hulle daar was, word die seuntjie gebore in ’n stal, want daar was nêrens ’n gastekamer beskikbaar nie. So word Jesus in ’n dierevoerbak neergelê.
Hulle ontvang besoek van skaapwagters wat by engele gehoor het dat Jesus gebore is, en ook van drie sterrekykers wat ’n ster tot in Betlehem gevolg het. Jesus word in die jaar 7/6 vC gebore en nie in die jaar nul of een soos ons sou verwag nie. Dit is as gevolg van ’n berekeningsfout wat biskop Dionusios Exiguus in die vierde eeu gemaak het. Op die agtste dag is Jesus besny en ontvang Hy die Naam, wat Verlosser beteken.
Toe koning Herodes verneem het van die seuntjie se geboorte, was hy woedend. Hy laat al die seuntjies jonger as twee jaar doodmaak. Gelukkig word Josef gewaarsku en hy, Maria en Jesus vlug na Egipte. Na die dood van hierdie Herodes keer Jesus en sy familie terug na Nasaret. Toe Jesus 12 jaar oud was, het Hy saam met sy ouers na Jerusalem gereis om die Paasfees te vier. Hier het Hy die mense beïndruk met sy kennis van God en die skrifte.
Toe Jesus ongeveer 30 jaar oud was, begin Hy met sy openbare optrede in Kapernaum. Hier langs die meer van Galilea woon Hy en roep Hy sy eerste vier dissipels, onder wie Petrus en Johannes. In hierdie omgewing het Jesus baie wonderwerke gedoen, mense op sabbatsdae in die sinagoges geleer en ook gelykenisse vertel. Jesus was gewild onder die mense, en nadat Hy ’n man met ’n gebreklike hand genees het, het sy teenstanders (godsdienstige leiers) begin om ’n komplot teen Hom te smee. Jesus wek ook sy vriend Lasarus uit die dood op.
Mense het van oral af gestroom om Jesus te sien en te hoor. Later het Hy nog agt dissipels gekies, onder wie Judas, die Iskariot, sy uiteindelike verraaier. Jesus beweeg ook buite die land se grense om mense gesond te maak en hulle oor die koninkryk van God te leer. Eindelik verklaar Petrus dat Jesus die Christus (die Gesalfde of Messias) is. Hierna begin Jesus se laaste reis na Jerusalem. Tydens hierdie reis vertel Jesus ook sy dissipels van sy dood en opstanding wat nog moet gebeur, maar hulle verstaan nie wat Hy bedoel nie.
Jesus ry die stad Jerusalem op ’n donkie binne, ’n koning van vrede en nie van oorlog nie. Die mense verwelkom Hom met oorgawe. Die volgende dag het Hy die tempel besoek en die mense wat daar besigheid gedoen het, verjaag. Die Paasfees kom nader en die lede van die Joodse Raad besluit om Jesus gevange te neem en iewers dood te maak, want hulle was bang vir die volk en ’n opstand in Jerusalem. Judas besluit om Jesus vir 30 silwermunte te verraai.
Jesus en sy dissipels het die aand bymekaar gekom om die Paasfees te vier. Hier stel Jesus die nagmaal in. Hierna gaan Jesus saam met sy dissipels na die Tuin van Getsemane om te bid. Jesus vra sy Vader vir hulp en krag. Toe daag Judas saam met soldate op en arresteer Jesus. Eers word Hy verhoor deur die Joodse Raad, daarna word Hy na Pilatus gestuur, maar Pilatus verklaar dat Jesus onskuldig is. Koning Herodes spot met Jesus en stuur Hom na Pilatus terug. Die skare was opgesweep en Pilatus besluit dat Jesus gekruisig moet word. Jesus moes self die dwarsbalk van sy kruis dra, maar Simon van Sirene help Hom tot by Golgota.
Om 09:00 die oggend word Jesus gekruisig. Jesus word gespot en getart. Om 12:00 het dit donker geword en om 15:00 het Jesus gesterf. Selfs die swaar gordyn in die tempel het middeldeur geskeur. Daar was ook ’n aardbewing. Hierna word Jesus in ’n nuwe graf begrawe. ’n Klip word voor die ingang van die graf gerol om te keer dat sy dissipels sy liggaam kom steel. Romeinse wagte moes ook daar waak.
Op die Sondagmôre het vroue na die graf gegaan om Jesus se lyk te balsem, maar toe hulle daar aankom, was die klip weggerol en die graf leeg. Jesus het uit die dood opgestaan soos Hy beloof het. Jesus is die Seun van God. Hierna verskyn Hy aan die vroue en later die aand ook aan sy dissipels en baie ander mense. 40 dae na sy opstanding vaar Hy op na die hemel, nadat Hy aan sy dissipels die opdrag gee om hierdie Goeie Nuus aan alle mense te verkondig en hulle te doop. Voor hul oë word Hy lewend, op ’n wolk, die hemel ingeneem.
Van Jerusalem tot Rome (Handelinge van die Apostels)
Mattias word in die plek van Judas as apostel gekies. Tien dae na Jesus se hemelvaart op Pinkster, was sy dissipels almal bymekaar. Met verskeie tekens word die Heilige Gees oor hulle uitgestort, en Petrus lewer sy eerste preek aan die mense in die straat. Baie mense het tot bekering gekom, en so ontstaan die eerste gemeente in Jerusalem. Mense het selfs hul grond verkoop om vir die armes te sorg. Ananias en sy vrou Saffira verkoop hul grond maar hou van die geld, en hulle slaan albei dood neer. Sewe diakens word in die gemeente gekies om te help met die versorging van die armes.
Petrus en Johannes word in die tronk gegooi nadat hulle in die tempel preek oor Jesus wat uit die dood opgestaan het. Na die pleidooi van Gamaliël word hulle vrygelaat. Een van die diakens, Stefanus, word aangekla omdat hy gesê het dat Jesus uit die dood opgestaan het en die Seun van God was. Hy word deur ’n woedende skare met klippe doodgegooi. Een van die getuies van die steniging was Saulus, ’n Fariseër, en hy begin om die gemeentelede, mans en vroue, te vervolg en in die tronk te gooi. Baie van die lidmate moes uit Jerusalem vlug, maar so versprei die Goeie Nuus oor Jesus Christus.
Ons lees ook van Filippus en die Etiopiër. Terwyl Saulus op pad is na Damaskus om gelowiges te arresteer, verskyn Jesus aan hom, en hy kom tot bekering. Sy naam verander later na Paulus. Petrus ontmoet Kornelius, ’n Romeinse kaptein, en nadat Kornelius hoor van Jesus Christus, kom hy en sy hele huis tot bekering. Die apostels besef dat Jesus nie net die Verlosser van die Jode is nie, maar van alle mense.
Om die evangelie aan ander mense te verkondig, besluit Paulus en sy medewerkers om dorpe en stede regoor Asië en Europa te besoek. In Antiogië word die bekeerlinge die eerste maal Christene genoem. In Filippi kom Lidia en haar gesin tot bekering en hulle word die eerste Christene in Europa. Tydens drie sendingreise word Paulus soms weggejaag en gearresteer, besoek hy verskeie dorpe en stede en vestig hy gemeentes. Die vervolging van Christene in die Romeinse Ryk word ernstig onder keiser Claudius (41-54 nC).
Na sy laaste sendingreis word Paulus weer in Jerusalem gearresteer. Hy bring twee jaar in die tronk deur, en uiteindelik stuur goewerneur Festus hom na Rome. Paulus was ’n Romeinse burger, en hy beroep hom op die keiser in Rome. Na ’n storm op see naby Malta, kom Paulus eindelik in Rome aan, waar hy toegelaat word om ’n huis te huur. Hy woon ongeveer twee jaar lank in Rome. In hierdie tyd skryf hy ook verskeie briewe aan gemeentes en vriende. Hierdie briewe is in die Nuwe Testament opgeneem.
(Ds Marius Venter is ’n emerituspredikant van die Kerk)

Geboorte van Johannes die Doper, en geboorte van Jesus word aangekondig
Luk 1

Jesus word in die stal in Betlehem gebore (7/6 vC)
Luk 2

Josef, Maria en Jesus vlug na Egipte
Matt 2

Jesus word deur Johannes gedoop (23/24 nC)
Matt 3

Jesus word versoek in die woestyn
Luk 4

Jesus roep sy eerste vier dissipels
Luk 5

Jesus doen wonderwerke en leer die mense oor God
Matt, Mark, Luk en Joh

Jesus ry onder toejuiging Jerusalem op die donkie binne
Mark 11

Jesus reinig die tempel
Mark 11: 15

Instelling van die nagmaal
Luk 22: 14

Jesus in Getsemane
Luk 22: 39

Jesus word gevange geneem
Luk 22: 47

Jesus verskyn voor Joodse Raad en Pontius Pilatus
Luk 22: 63 – 23: 5

Jesus word gekruisig op Goeie Vrydag (26/27 nC)
Luk 23: 26 / Joh 19: 17-27

Jesus staan op en verskyn aan vroue, sy dissipels en ander
Mark 16 / Luk 24

Na 40 dae vaar Jesus op na die hemel
Hand 1: 9-11

Uitstorting van die Heilige Gees op Pinkster, 10 dae na Jesus se hemelvaart
Hand 2: 1-13

Petrus se eerste preek en die eerste gemeente in Jerusalem ontstaan
Hand 2: 14-47

Onderlinge mededeelsaamheid
Hand 4: 32 – 5

Sewe diakens word gekies
Hand 6

Stefanus word gestenig
Hand 7

Saulus vervolg die kerk
Hand 8: 1-25

Filippus en die Etiopiër
Hand 8: 26-40

Saulus se bekering op pad na Damaskus
Hand 9

Christene word vervolg en vlug uit Jerusalem (46 nC)
Hand 12

Paulus begin eerste van drie sendingreise
Hand 13: 1 – 21: 26

Lidia is die eerste bekeerling in Europa
Hand 16: 11-15

Paulus word gevange geneem, verskyn voor Festus en beroep hom op die keiser in Rome
Hand 21: 27 – 26: 32

Paulus word na Rome geneem, maar die boot strand op Malta (60-61 nC)
Hand 27 – 28: 15

Paulus in Rome (62 nC)
Hand 28: 16-31