Wat laat jou huil? Watter dinge maak die sluise oop sodat die trane onbeheers vloei en die seer net nie wil wyk nie?
Ek redigeer iemand se begrafnisbrief, en skielik rol die trane. Ag Here, daar is soveel hartseer nou in die wêreld. Soveel hartseer altyd, elke dag, elke oomblik, iewers by mense.
Om ’n nuusbrief saam te stel, beteken dat jy gereeld berigte ontvang oor sterftes. Om ’n Bybelse dagboek te redigeer, beteken om heel dikwels diep geraak te word deur ’n predikant se boodskap.
Om te leef en te lees en in wisselwerking met mense te wees, bring ons gereeld in kontak met leed en pyn. So lees ek verlede Sondag ’n terloopse vermelding in Herman Lategan se rubriek in Rapport van ’n oudjoernalis wat vroeër in Februarie oorlede is, en my hart trek saam. Ek en sy was vriende, jare der jare gelede, maar ons het intussen kontak verloor. Gaan soek op die internet en lees waarmee sy haar in die skone Kaap besig gehou het. Ai, man! En nou is dit te laat om weer die bande op te tel.
Asof al die hartseer nuus en tekste nie erg genoeg is nie, oorval ’n verpletterende stuk hartseer my na aanleiding van ’n gedig in Eunice Basson se nuutste bundel. Het ek maar nét die gedig gelees, maar ek móés toe net weer gaan oplees oor die gebeure waaruit haar gedig ontstaan het. Alan Kurdi, ’n driejarige Siriese seun van Koerdiese afkoms, het op 2 September 2015 saam met sy ma en broer verdrink in die Middellandse See. Hulle was Siriese vlugtelinge wat probeer het om Europa te bereik en hulle later in Kanada te vestig.
By die see
Vir Alan Kurdi (2012-2015)
Langs ’n vreemde kus skitter rotspoele
waar kinders later in die dag
tussen klipkouse en wier sal dobber en joel,
seedruiwe heen en weer sal slinger en ’n klein inkvis
sal koes vir die aasjagter se vangstok.
Wagtend op die eerste golwing hooggety
lê ’n kind soos ’n speelding
in nuwe klere en skoeisel uitgevat
tussen drifsel en branderskuim
met die somerson vir oulaas polsend
in sy klein, ontvanklike hande
voor ’n soldaat op kuspatrollie
hom van die sand af skep,
en vir ’n oomblik, asof sy eie,
teen sy warm bors vasdruk.
Eunice Basson
(Uit: By die dag, 2020)
Die foto’s op die internet ruk ’n mens tot stilstand. Sonder om te debatteer oor vlugtelinge en asiel en lande se gewilligheid of onwilligheid om massas mense of selfs enkele individue toe te laat; sonder om te praat oor oorlaaide rubberbote en oneffektiewe reddingsbaadjies; dink net vir ’n oomblik daaraan: ouers wat nuwe kleertjies koop vir hul kleinding om op ’n nuwe, veiliger plek te gaan bly; opgewondenheid oor die groot avontuur, waarvoor hulle ál hul geld gegee het.
En wat is die uiteinde? ’n Kind se lewelose liggaam in die water wat oor hom spoel en wegtrek, speels al nader en verder aanrol, totdat ’n vreemdeling hom optel en wegdra…
En ek dink onwillekeurig aan my eie kleinseun, aan die vreugde in sy oë as hy sy pa sien, die verwarring wanneer Pappa weer totsiens sê. Wat weet ’n tweejarige kind tog van egskeiding?
Ek dink ook aan die blinde digter William Rowland se woorde in Die huis waar ek woon:
ek moet onthou:
elke dag is ’n ronde blou klippie
wat ’n seuntjie soos ’n juweel in sy sak vertroetel
Uiteindelik kan ons net verbete bid, soos Dalene Reyburn in Gebede vir ’n ma se hart (CUM, 2018):
Oppermagtige God,
dankie dat U altyd – 24/7 –
by my kinders is.
Dankie dat U
gaan waar hulle gaan,
sien wat hulle sien,
hoor wat hulle hoor.
Dankie dat U weet
wat in hulle harte is.
Hou ons veilig
wanneer ons nie by mekaar is nie.
Amen.
(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)
Dankie Tessa, hierdie het my aan die hart geruk
Ai Tessa, nou het ek ook ‘n traantjie gepink. Dankie vir ‘n baie mooi stuk.
Ek bid ook vir my kinders en kleinkind doer ver in ander lande ‘Hou ons veilig wanneer ons nie by mekaar is nie.’
Nogtans het ek ‘n dankbare hart dat my kinders kon grootword in ‘n veilige omgewing, mooie Suid Afrika met al sy gebreke was goed vir ons.