Hongaarse argeoloë maak daarop aanspraak dat hulle waarskynlik die dansvloer in Machaerus gekry het waar Salome gedans het vir die prys om Johannes die Doper se kop in ’n skottel te kry (Matt 14: 11). Johannes die Doper se dood word op ongeveer 29 nC bereken.
Die moord op Johannes die Doper word sowel in die Bybel as deur Flavius Josefus vertel.
Johannes die Doper is gedurende Herodes Antipas se bewind as tetrarg vermoor. Hy het die storie onder sy dienaars versprei dat Johannes die Doper oor buitengewone kragte beskik, en dus ’n baie gevaarlike man is, omdat hy uit die dood opgewek is.
Sy werklike probleem met Johannes die Doper was dat dié hom gereeld gekritiseer het omdat hy met Herodias, die vrou van sy broer Filippus, ’n buite-egtelike verhouding begin het en haar uiteindelik sy vrou gemaak het.
Tydens sy verjaardagviering het Herodias se dogter, Salome, toe op ’n bekoorlike wyse voor Herodes Antipas en sy gaste gedans. As prys daarvoor het Herodias vir Salome aangehits om Johannes die Doper se kop op ’n skinkbord te eis. Johannes die Doper is in daardie stadium in die tronk aangehou nadat Herodes Antipas hom in hegtenis laat neem het. Herodes Antipas het ’n vrees ontwikkel vir die groeiende invloed wat Johannes die Doper onder die bevolking begin kry het. Die Bybel vertel dat Herodes Antipas die dood van Johannes die Doper voltrek het as ’n belofte wat hy aan Salome gemaak het.
Volgens Flavius Josefus het die insident by Machaerus plaasgevind wat ’n fort naby die Dooie See, in die moderne Jordanië, was. Op die hooffoto (© Győző Vörös, Hungarian Archaeological Mission to Machaerus) is die nis in die vesting van Machaerus wat Hongaarse argeoloë glo die plek is waar die troon van Herodes Antipas gestaan het en waar die vloer is waar Salome gedans het.
Die dansvloer In Machaerus
Die perseel waar die vloer ontdek is, blyk ’n voorhof te wees van ’n gebou wat gedurende die eerste eeu na Christus as ’n koninklike vesting of fort in Machaerus gebruik is. Aan die uitleg van die vertrek kan gesien word dat ’n boogvormige nis aan die een kant van die vertrek ingerig is. Dié boogvormige nis is die plek waar die troon van Herodes Antipas waarskynlik gestaan het.
Ná koning Herodes die Grote se dood is sy ryk tussen sy drie seuns verdeel. Herodes Antipas het as tetrarg oor Galilea en Perea regeer. Hy het sý deel van die ryk gereeld vanuit Machaerus regeer. Herodes Argelaus het Samaria, Judea en Idumea gekry en het as etnarg oor dié gebiede regeer. Herodes Philippus, Herodes die Grote se seun wat hy by sy vyfde vrou, Cleopatra van Jerusalem, gehad het, het as tetrarg oor die gebied wes en noordwes van die See van Galilea geregeer.
Die voorhof is reeds in 1980 ontdek, maar die argeoloë wat daarby betrokke was, het nie tóé die nis raakgesien wat as troongedeelte gebruik is nie. Met die ontdekking van die nis waar die troon waarskynlik gestaan het, maak dit méér sin dat die oppervlak vóór die nis ’n vloer moes gewees het wat vir seremoniële of onthaaldoeleindes gebruik kon wees.
Met die rekonstruksie van die vesting in Machaerus kon die binnehof waar die koning sy gaste onthaal het, redelik goed saamgestel word.
Op hierdie foto (© 2015, Gyözö Vörös) is die gerekonstrueerde plan van die paleis in Machaerus wat deur koning Herodes gebou is en waar Salome voor Herodes Antipas gedans het.

Hierdie binnehof was nie net die grootste argitektoniese ruimte in die paleis nie, maar ook die enigste plek waar dié berugte partytjie gehou kon word waar Salome vir die gaste moes dans. Die dans wat Salome uitgevoer het, was nie bloot artistieke bewegings waarmee sy die koning en sy gaste kon bekoor nie. Herodes Antipas se versoek het gelui dat sy enige prys kon vra, selfs al sou dit die helfte van sy koninkryk wees, solank sy ’n besondere vertoning vir hulle sou lewer.
Die dans waarmee sy die koning en sy gaste moes behaag, word in die keuse van die Griekse woordeskat verklap. Volgens die Griekse teks moes sy ’n dans uitvoer wat ὀρχησαμένεϛ (orchesamenes – Mark 6: 22) of ὠρχήσατο (ōrchēsato – Matt 14: 6) moes wees. In die wortel van die woord kan die klank gehoor word waarvan die uitdrukking orgie afgelei is. Die dans wat Salome daar in die binnehof moes uitvoer, waarvoor sy so ’n hoë prys kon vra, het dus die elemente van ’n wellustige dans, ’n ὀρχησαμένεϛ of ὠρχήσατο, gehad.
Die plek waar die koning gaste onthaal het en die dans uitgevoer kon wees, was 19,39 m x 14,51 m groot en het selfs oor ’n verhogie beskik wat in ’n nis by die muur ingebou is. Die ruimte het verder bestaan uit vier groot hoekpilare met ’n hartvormige struktuur. Tussen die hoeke is ses pilare in Doriese styl aangebring om ’n totaal van 24 pilare te vorm wat in tipiese Herodiaanse styl versier is. Die Doriese pilare was 3,81 m hoog.
Feitlik aangrensend aan die binnehof was ’n badhuis wat uitgevoer was met tien Ioniese pilare van 4,75 m hoog. Die suidwestelike hoek van die binnehof het feitlik aan die noordoostelike hoek van die badhuis gegrens. ’n Gang het tussen die twee vertrekke deurgeloop wat die paleis in twee dele verdeel het.
Kundiges se opinie
Kundiges in die argeologiese en Nuwe Testamentiese wetenskap is verdeeld oor die huidige bevinding van die ontdekking.
Morten Hørning Jensen, hoogleraar in Religieuse Studies aan die Noorweegse Akademie vir Teologie en skrywer van die boek Herod Antipas in Galilee, reken dat die ontdekking van die vloer waar Salome gedans het histories moontlik kan wees.
Jodi Magness, óók ’n hoogleraar in Religieuse Studies, maar aan die Universiteit van Noord-Carolina, is nie heeltemal oortuig van die ontdekking nie. Sy het groot waardering vir Vörös se werk, maar reken dat die nis wat in Machaerus gekry is, te klein is om as Herodes Antipas se troon te dien teenoor wat sy pa, Herodes die Grote, se troon in sy winterpaleis in Jerigo was. Sy is daarvan oortuig dat die Machaerus-nis meer ooreenstem met twee soortgelyke nisse wat by ’n paleisvesting gevind is wat Herodes die Grote vir hom in Bowe-Herodium laat bou het. Daardie twee nisse is nooit as trone gebruik nie.
Eric Meyers, ’n emeritusprofessor van die Duke Universiteit in Joodse Studies, is méér versigtig en verkies om eers vir die finale verslag van die ontdekking te wag alvorens hy sy mening gee. Hy voel dat daar nog meer navorsing gedoen moet word tussen die literêre beskrywing van Johannes die Doper se onthoofding en die argeologiese perseel wat ontdek is.
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)