As ’n meesterstudent en aspirantpredikant van die NHKA het ek gedurende my studies gereeld gevoel dat ek binne kerklike kringe uitgedaag word as gevolg van my vroulike liggaamlikheid. Gedurende my studiejare is ek gereeld gekonfronteer met vrae en opmerkings soos: Wanneer trou jy nou? Is jy nie te mooi om ’n predikant te wees nie? Jy lyk te sexy in daardie rok!
Vanweë hierdie ervarings by verskeie kerklike geleenthede vra ek myself hoekom vrouepredikante vandag nog gekonfronteer word met hierdie vrae en opmerkings. 41 jaar van vrouepredikante in die bediening het deur en deur bewys dat vroue bekwaam genoeg is om die rol van predikant te vertolk.
Prof Yolanda Dreyer vertel in ’n onderhoud met Beeld in April 1999 dat vroue nie meer net koeksisters bak in die kerk nie, maar ook nou leiersposisies beklee. Tog is dit duidelik dat die bediening vir vroue vandag steeds ’n uitdaging is. Het vrouepredikante dalk ander uitdagings as manspredikante as gevolg van hul liggaamlikheid? Weens die opmerkings wat ek Sondag na Sondag aan my eie lyf voel, kon ek nie anders nie as om hierdie studie aan te pak.
Dit het gelei tot die kernvraag van my studie: Kan Antjie Krog se poësie help om die kerk en in besonder die liturgie meer insluitend te maak vir die uitleef van vroulike liggaamlikheid?
Die volgende subvrae dien as ondersteuning van die kernvraag:
- Is daar meer uitdagings vir vrouepredikante in die bediening as gevolg van hul liggaamlikheid?
- Is daar sinvolle ruimte vir die uitleef van vroulike liggaamlikheid binne die liturgie van die NHKA?
- Wat leer ons uit Krog se poësie ten opsigte van vroulike liggaamlikheid?
Die eerste subvraag vra na die uitdagings van vrouepredikante op grond van hul liggaamlikheid en spesifiek of daar meer uitdagings vir hulle is daaroor. Met die lees van feministiese teologie en liggaamsteologie word dit duidelik dat vroue se liggame regdeur die geskiedenis geobjektiveer is. Tog is die objektivering van vroue se liggame vandag nog ’n probleem waarmee elke vrou te kampe het.
Dit is ook belangrik om in ag te neem dat elke vrou se belewenis anders is en dat alle vroue nie eenvoudig oor dieselfde kam geskeer kan word nie. Dit kom tog voor asof daar nog altyd onderskeid getref is by vroue wanneer dit kom by hul liggaamlikheid. Die lees van Krog se poësie is ’n groot aanwins en dit help ons ook om te verstaan dat die Afrikaanse kultuur tot vandag toe nog patriargaal van aard is. Alhoewel die bundel van Krog wat in die studie bestudeer word, Gedigte 1989-1995, reeds 25 jaar oud is, kan die belewenisse wat daarin verwoord word, tot vandag nog as relevant beskou word. Omdat die konteks van die NHKA veral in die Afrikaanse kultuur ingebed is, beteken dit meestal dat vroue in hierdie spesifieke konteks nie maklik in leierskapposisies aanvaar word nie. Dus word in die studie getoon dat daar vandag steeds uitdagings vir vrouepredikante bestaan weens hul liggaamlikheid.
Die studie vra ook of daar ’n sinvolle ruimte bestaan vir die uitleef van vroulike liggaamlikheid binne die liturgie van die NHKA. Tydens die studie het ek gebruikgemaak van outo-etnografie, wat beteken dat ek staatgemaak het op my eie gevoel, verstaan en belewenis. Outo-etnografie kan beskryf word as die geleentheid vir gefokusde refleksie op die ontwikkeling van die self. Dit gaan gepaard met die verkenning van ons persoonlikheid, identiteit en betekenis. Dit bring ook die vraag na outentiekheid na vore, wat belangrik is vir ons verstaan van God.
Tydens die studie is joernaal gehou van die eredienste van vier gemeentes in die NHKA. Hier is aandag gegee aan hoe ek as vrou gevoel het tydens die erediens, met klem op die liturgie. Daar kan duidelik gesien word dat daar steeds handelinge in die liturgie van die NHKA bestaan wat veroorsaak dat ek as vrou nie ten volle deel voel van die erediens nie. Handelinge waar vroue uitgesluit word, stroop hulle van die belewenis van die liturgie en veroorsaak ’n spirituele afsluiting van God. Elke Sondag sit daar steeds vroue in die erediens wat ongemaklik voel met hul vroulike liggaam as gevolg van die feit dat vroue nie aan sekere handelinge mag deelneem nie, byvoorbeeld die staan van mans alleen tydens gebed. Aan die ander kant kan dit waarde toevoeg indien vroue ten volle kan deelneem aan die handelinge tydens die liturgie. Dit gee ’n gevoel van verwelkoming en wys dat alle mense as gelykes gesien word voor God. Vroue kry dan waarlik die geleentheid om ten volle deel te neem aan die erediens en te voel dat hulle hoort en ten volle deel is van God se geloofsgemeenskap.
Die antwoord op die vrae in die studie kan na albei kante geïnterpreteer word: ja en nee. Konteks speel ’n belangrike rol. Daar bestaan vandag steeds gemeentes in die NHKA wat vrouelidmate marginaliseer deur ons te verhoed om deel te neem aan die handelinge van die erediens as gevolg van ons geslag. Tog is daar ander gemeentes waar die hele gemeente kan deelneem aan die liturgie, byvoorbeeld almal staan of sit tydens gebed, en niemand word uitgesluit nie. Daar bestaan dus hoop en daar is reeds moontlikhede in die Kerk waarna gestreef kan word.
Wat kan ons leer uit Krog se poësie ten opsigte van vroulike liggaamlikheid? Uit die bundel Gedigte 1989-1995 is drie gedigte gekies om ontleed te word in die studie: “ek kom agter dat ek mans bekyk”; “man ek lus ’n twakkie”; en “ek staan op ’n moerse rots langs die see by Paternoster”. In hierdie bundel spreek Krog verskillende aspekte van vroulike liggaamlikheid aan, insluitende vroulike adolessensie, maagdelikheid, menstruasie, seksualiteit, swangerskap, kindergeboorte, moederskap en menopouse.
Dit word duidelik uit die lees van haar poësie dat sy poog om die geslagsrolle wat tot vandag toe nog in die Afrikaanse kultuur bestaan, af te breek. Sy wys vroue op die onafhanklikheid waarna elkeen in die lewe moet streef. Vroue moet deur die lees van hierdie gedigte tot die insig kom dat hulle volwaardig mens is en dat elke vrou die reg en verantwoordelikheid moet neem vir haar eie seksualiteit en liggaam. Krog verbreek ook hier die eeuelange stilte oor vroue se liggame deur vir die eerste keer juis te skryf oor hul liggame. Sy neem hier as’t ware haar eie stem terug wat die patriargie vir te lank van haar weggeneem het, en praat oor haar eie liggaam.
Wanneer daar nou weer nagedink word oor die oorspronklike kernvraag van die studie, naamlik of Antjie Krog se poësie kan help om die kerk en in die besonder die liturgie meer insluitend te maak vir die uitleef van vroulike liggaamlikheid, wys die studie dat Krog se poësie ’n deurslaggewende rol kan speel. Die rede hiervoor is dat daar min bronne en literatuur bestaan wat bereid is om te praat oor vroue se liggame en seksualiteit. Tot vandag toe nog word dit as onvanpas bestempel in die kerklike atmosfeer en Afrikaanse kultuur om daaroor te praat. Tog is die praat oor en erkenning van vroulike liggaamlikheid essensieel vir ’n insluitende liturgie.
Vroue moet die geleentheid kry om uiting te gee aan hul lyflike belewenisse tydens die liturgie. My hoop is dat elke vrou in die NHKA eendag die vryheid sal hê om haar eie stem terug te neem en haar liggaamlikheid te beleef, en sodoende ook meer erken te word tydens die erediens.
*** Hierdie artikel is ’n opsomming van prop Potgieter se MDiv-skripsie van 2020, getitel Haar lyf: ’n Ritueel-liturgiese verkenning van vroulike liggaamlikheid deur die lens van poësie van Antjie Krog.
(Prop Sariné Potgieter is beroepafwagtend)