Die Van der Hoff Teologiese Vereniging vier vanjaar sy honderdjarige bestaan en in die Kerk se Argief lê spore daarvan in notules, lesings en feesblaaie.
Die eerste treë word op 24 Maart 1924 aangeteken.
Onder die agerende voorsitterskap van dr SP Engelbrecht word die wenslikheid van ’n vereniging vir teologiestudente aan die TUK (Transvaal Universiteitskollege) gemotiveer, en op voorstel van mnr CH Rautenbach, gesekondeer deur mnr Prinsloo, word besluit: aan die TUK sal bestaan ’n Vereniging van die Teol Studente van die Ned Herv kerk van Afrika wat die naam sal dra van ‘Van der Hoff’.
Die doel van die Vereniging is die bevordering van die geestelike-intellektuele en kerklike belange en versterking van die onderlinge vriendskapsband van die lede. Die Bestuur kry opdrag om ’n konstitusie op te stel en ’n lied in Afrikaans vir die Vereniging te laat dig. Op die vergadering van 24 Augustus 1924 word besluit dat 1 Timoteus 6: 20 (AFR1983) as spreuk sal dien: Bewaar wat aan jou toevertrou is.
Hierdie pand is gekoester te midde van ’n wêreld van verandering, en die jong teologiese vereniging sou so getrou moontlik die ideale en doelwitte nastreef.
Dit was ’n handjievol studente en professore wat gereeld op Donderdaeaande vergader het. Soms was dit aan huis van “vadertjie”-prof JHJA Greyvenstein, die Hollandse of Duitse klaskamer, die pastorie te Silverton of Gemeente Pretoria-Oos.
Die installasievergadering het meestal in Gemeente Pretoria-Oos plaasgevind en nuwe teologiestudente sou eenkant wag op die koms van die abactis vir die afneem van die volle name, die fiscus vir die heffingspenning, en dan in die kersbeligte vergadering gelei word. Die praeses het geopen met ’n toepaslike boodskap, die eerste artikels van die konstitusie moes deur die eerstejaars beaam word, en na die drie tikke met die Van der Hoff-hamer en ’n Van der Hoff vivat, crescat floriat, het die inwydingsbeker van hand tot hand gegaan en ’n verwelkomingswoord is deur seniors en die professore aan die nuwelinge gerig.
Die daaropvolgende vergaderings moes dien om die studente te vorm, nie net teologies nie, maar ook vir diens in gemeentes. Van studente is verwag om ’n referaat voor te berei en studente sowel as professore het deeglike en opbouende kommentaar bygedra. Die temas van die referate strek oor ’n wye veld, soos dié van JJ Prinsloo op 10 Mei 1928, Die Bybelse en Babiloniese vloedverhale; Die Christendom en Nazïsme deur G Roos op 24 Augustus 1939, en Die etiek van Deuteronomium deur PS Dreyer op 13 April 1942.
In 1955 word besluit dat studente nie oor die vaardighede beskik om lesings aan te bied nie en dat professore en predikante eerder die taak ter hand neem. Hierop gee ds PM Smith raad oor Huisbesoek, prof ES Mulder oor die Liturgie van die Erediens, en prof FJ van Zyl hou Die mens geskape na die beeld van God voor.
Die 1955-besluit word later herroep, maar voortaan sou die vyfdejaars, nie sonder protes nie, ’n referaat aanbied.
Behalwe die lesings is van eerstejaars verwag om tydens vergaderings voordragte te lewer – ’n gedig van CL Leipoldt of NP van Wyk Louw kon dien, en nie sonder rede nie is eerstejaars oor die kole gehaal omdat hulle nie hul versies ken nie. Trouens, op 22 Mei 1958 word die eerstejaarsvoordrag bespreek, want Eerstejaar Minnaar wil nie voortgaan nie en motiveer: As gevolg van ’n ongekende vrees wat die mense beetpak by die voordrag, word so ’n geleentheid vir hulle nie, meer, ’n aangename saak nie, maar eerder ’n nagmerrie wat hulle spraak en geheue aantas.
Van der Hoff het, soos die praeses van 1975 skryf, nie net na binne geleef nie, maar ook na buite. Tydens die oop vergaderings is die Teologiese Vereniging Deo-Gloria van die Ned Geref Kerk en ander instansies genooi om ’n tema toe te lig, en jaarliks het Van der Hoff deelgeneem aan kongresse by die Universiteite van Stellenbosch en Potchefstroom. Die vrug van nadenke het neerslag gevind in artikels – sommige in die Van der Hoff-blad, ander in die Hervormde Studenteblad soos die Toerjoernaal van 1978 of later in die Universiteit van Pretoria se maandblad Die Perdeby.
Met reëlmaat het die fiscus lede opgeroep om donasies by te dra vir die Weeshuis te Krugersdorp en Sending. Op voorstel van mnr G Pelser besluit Van der Hoff op 5 Augustus 1959 om konserttoere van stapel te stuur. Dit sou nie net dien om Van der Hoff bekend te stel nie, maar ook om fondse in te samel vir die Van der Hoff-beursfonds vir behoeftige teologiestudente. Hierdie konserttoere, maar ook die stigting van ’n koor, die jaarlikse Joolvlot sowel as die krieket- en rugbywedstryd tussen BA- en BD-studente, het ’n goedige gees geskep. Daar is gereeld pieknieks gehou by Hennopspark en die Fonteine, en per geleentheid moes die vergadering besin oor die drieweeklikse vergadertyd, want dit bots met die Sings-songs.
Meer ernstige sake is ook aangeroer en die Bestuur is afgevaardig om met die dekaan of die Kuratorium gesprek te voer oor klasdrag, koffiepouses, tentamens, die sleep van vakke, beurse en vrystellingsbriewe vir nasionale diensplig.
Behalwe hierdie werklikhede, het Van der Hoff vreugdes gedeel – soos ’n suksesvolle proefpreek, verlowing en huwelik, die aanstelling as hoogleraar, ’n posisie in Noord-Transvaal se Rugbyspan, of verkiesing tot die VSR. Leed is ook gedeel: die siekte van ’n professor en vriend, die dood van ’n kind en kerklike twis.
Die spore van die Van der Hoff Teologiese Vereniging se eerste eeu lê nie net in die Argief nie, maar is vervleg met die lewensgang van kollegas en lidmate, klink in klaskamers en op kansels; dit buig na binne en kring na buite en roep: …τὴν παραθήκην φύλαξον…
(Dr Christo Pretorius is die hoof van die Sentrum vir Reformatoriese Teologie en predikant in Gemeentes Pretoria en Wonderboom-Suid)

1924

1928

1945

1955

1968

1977

1990

1998

2019

2014

2023