Johannes 16: 5-15
In Johannes 16: 9 sê Jesus vir sy dissipels: Die wêreld is skuldig aan die sonde, want die wêreld glo nie in My nie. Jesus sê dit teen die agtergrond van die Heilige Gees, die Voorspraak, wat kom om die wêreld te oortuig dat Jesus die Christus is, en om die wêreld tot geloof in Jesus Christus, die Here, te bring. Maar die wêreld sal hierdie werk van die Heilige Gees teenstaan. Dit is wat Jesus ook vroeër in sy lewe bedoel het met laster teen die Heilige Gees as dié sonde wat nooit vergewe sal word nie (Mark 3: 20-30). Daadsonde sal mense vergewe word as hulle hulle bekeer en dit bely. Wat mense nie vergewe sal word nie, is wanneer die Heilige Gees in hulle werk en hulle oortuig dat Jesus die Christus, die Here is. Wie dáárdie werk van die Heilige Gees teenstaan en nie in Jesus Christus glo nie, sal nie gered word nie.
In 1 Johannes 2: 18-27 kom die skrywer van die eerste Johannes-brief weer hierop terug. Die antichris is die mens wat nie wil erken dat Jesus die Christus, die Seun van God is nie. Die antichris is nie die een of ander duiwelse of bose figuur nie. Die antichriste is die mense wat die werk van die Heilige Gees weerstaan en nie erken dat Jesus die Christus die Seun van God is nie.
Die grootste nood in ons wêreld en onder die mensdom tans, is nie daadsonde wat gepleeg word nie. Dit is ook nie armoede of dreigende oorlog nie. Die grootste nood van die mensdom is dat Jesus as die Christus, die Seun van God, verwerp word. Trouens, dit lyk asof die Naam van Jesus Christus ’n voorwerp van spot en ’n vloekwoord op die meeste se lippe geword het. So ’n antichristelike mensdom sal nie die Lewe sien nie. Dit is ons voorreg om onder leiding van die Heilige Gees die Naam van ons Heiland aan te roep en die evangelie van verlossing deur Hom te lééf.
Dr Daan van Wyk (jr), Van der Hoff