Openbaring 5: 1-14

Openbaring is vol openbarings oor hoe die Seun van God lyk. Een van die Openbaring se groot verrassings is om te leer dat die Seun van God in werklikheid die Leeu en die Lam is. Dit is bykans onbegryplik. Terwyl Johannes nog huil oor geen mens die boekrol kan oopmaak nie, tree ’n ouderling na vore: Moenie huil nie. Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal en kan die boek met die sewe seëls oopmaak (Op 5: 5). Vir die stukkende mens, toegegooi in sy onseker en harde werklikheid, is dit onverdiend en eenvoudig goeie nuus.

In hoofstuk 5 kry Johannes die opdrag om mooi te kyk. Hy sien toe die Leeu wat tussen die troon en die ouderlinge rondloop, is toe eintlik ’n Lam. Die Leeu en die Lam is simbolies. Dit vat ons gedagtes terug na die verhaal van die uittog uit Egipte. Daar, onthou die lesers, is die eersgebore Joodse seuntjies se lewens gespaar toe die bloed van ’n lam aan die deurkosyne gesmeer is (Eks 12: 21-23). Soos die lam in die seun se plek moes sterf, sou die Lam weer sterf om die mens van sonde vry te maak. Jesus se bloed het ook soos die lam se bloed gevloei om die mense van sonde los te koop.

God werk nie net met die krag van ’n leeu nie, maar baie dikwels met die sagtheid van ’n lam. Op die oomblik wanneer Jesus sterf, red Hy die ganse wêreld. Dit is veral met die opstanding uit die dood dat ons God die Seun as die Lam leer ken. Een van die eerste titels wat Johannes in Openbaring vir Jesus gee, is: die Eerste wat uit die dood opgestaan het (Op 1: 5). Jesus kon Homself aan die dood oorgee omdat Hy die Vader vertrou het om Hom weer uit die dood op te wek.

Tom Wright sê: God het ’n plan met die Leeu en die Lam.

Dr Hannes Janse van Rensburg, Zuurfontein / SGB Interimbegeleiding