1 Korintiërs 12
Terwyl die kerk op aarde besig is om haar opdrag uit te voer om dissipels van alle mense te maak, is dit die Heilige Gees wat die groot werk in gelowiges doen. Dit is Hy wat mense oortuig om te glo. Hy trek mense wat glo in die liggaam van Christus in. (Oortuig hulle dat dit is waar hulle moet wees.) Die Heilige Gees maak God se Woord duidelik en verstaanbaar. Die Heilige Gees oortuig ons van ons sonde en bring ons tot skuldbelydenis, waardeur ons die vergifnis van sonde ontvang.
Dit is die Gees wat die kerk lei om haar roeping in verskillende situasies duidelik te verstaan. En in hierdie verstaan van ons roeping, is dit die Heilige Gees wat verskeie bedieninge in die kerk tot stand laat kom. Die duidelikste voorbeeld hiervan vind ons in Handelinge 6: 1-7. Die Gees lei die gelowiges in hul soeke na ’n oplossing toe hulle met ’n probleem gekonfronteer word. Biddend en soekend na ’n oplossing, lei die Heilige Gees hulle tot die totstandkoming van die bediening van barmhartigheid. Die diakens wat aangestel word, is mense wat deur die Heilige Gees gelei word en met gawes toegerus word.
Deur die eeue het die Heilige Gees telkens die kerk gelei om oplossings vir verskeie situasies te vind in bedieninge deur mense wat met besondere gawes deur die Heilige Gees toegerus is. In die Nuwe Testament alleen is daar sprake van ongeveer 23 gawes waarmee die Gees gelowiges in die kerk van daardie tyd toegerus het. Niemand in die kerk het al die gawes nie, maar alle gelowiges het ten minste een. En alle gawes het ten doel om die kerk gereed te maak en toe te rus om haar groot doel op aarde te bereik.
Die groot vraag wat elke gelowige hom- of haarself moet bly afvra, is: Hoe wil die Heilige Gees my toerus en gebruik tot voordeel van Christus se Liggaam hier waar ons nóú lewe?
Ds Barrie Oberholzer, Grootfontein / Tsumeb