Het jy ook onlangs jou Facebook oopgemaak en voor jy jouself kon kry, het jy al amper klaar na al die podsendings van ds Janine Bevolo-Manders gekyk? Jy wou dalk net gou in jou blaaskans geloer het om te sien waarmee almal hulself die afgelope naweek besig gehou het, en daar sit jy aandagtig na die eerste episode Die geheim van 1% en luister.

’n Mens kan nie anders as om haar durf en waagmoed om só ’n projek aan te pak, te bewonder nie. Dit vat sommige van ons weke, maande, of selfs jare om konkrete gestalte aan ons drome te gee. Die Leef Lig-podsending is ’n bewys dat as jy voel dat daar ’n droom op jou hart geplaas is, moet jy daarop reageer of jy nou gereed voel of nie. Hierdie droom van ds Janine is vasgepen en gekweek onder die lewensafrigtingsprogram van dr Thinus van Staden van Gemeente Montana. Maar sy het haarself nie die ruimte gegun om daaroor te begin twyfel nie. Sy het dadelik begin om aan haar eerste probeerslag te werk. 

’n Mens word egter vinnig bewus van die harde werk wat só ’n produksie vooruit moet loop. Ligte, kamera, aksie? Dit is toe nie só maklik nie.

Ons laat graag ons fone teen die naaste oppervlakte skuins lê terwyl ons besig is om kos te maak. Dan luister ons na podsendingreekse. Ons kyk so af en toe na die skerm terwyl ons heen en weer loop vir die suiker of die meel. Maar hoeveel van ons het al gestop om te wonder hoeveel moeite in een só ’n produksie gaan? Ds Janine vertel dat dit toe nie net beteken om die rooi opnameknoppie te druk nie! Dit is ure se voorbereiding wat moet plaasvind vir die inhoud wat bespreek word en die redigeerwerk wat daarop volg.

Daarom is dit ’n voorreg om die vrou agter hierdie podsending aan julle voor te stel. Sy is ’n leraar by Gemeente Witfontein, ’n lid van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, en ’n nuwe podsendingvoorloper in die NHKA. Oor die jare het ds Janine aan haar talente geskaaf en leiding geneem vir nuwe projekte en dinkskrums. Die Kerk was natuurlik aan die ontvangkant hiervan. Haar liefde vir die Hervormde Kerk het in Brakpan onder die leiding van ds Chris van den Bergh begin om te blom. Dié liefde het al hoe duideliker geword tydens haar eerstejaarstudies in die mediese veld en sy het besluit om eerder haar hart te volg en teologie te gaan studeer. Dit is ook tydens haar teologiestudies waar sy haar man ds Jimmy Manders ontmoet het. Dit was die begin van hul paadjie saam. Na afloop van ds Janine se studies het sy as leraar by Gemeentes Wonderboom, Hartbeeshoek, Rustenburg-Tuine en ook Witfontein gedien.

Ons bid haar seën en voorspoed toe vir hierdie opwindende avontuur wat voorlê en sien uit daarna om die groei van haar podsending te aanskou.