Handelinge 2: 37-47

In beide die tweede en derde aksies gaan dit daaroor dat die gemeente vir mekaar gesorg (koinonia) en in diens van mekaar gestaan het – hulle het na mekaar gekyk op verskillende vlakke. Een vertaling van die Nuwe Testament het hierdie deel vertaal met: Hulle was nou soos ’n splinternuwe familie.

Hoe funksioneer ’n familie? Mense sorg vir mekaar, gee vir mekaar om, en sal mekaar verdedig wanneer ander die familie aanval; maar ’n mens behoort ook regverdig te wees en mekaar te leer in ’n familie. Daarom sal ouers partykeer die kinders moet straf as hulle iets verkeerd gedoen het. Ouers sorg dat daar kos in die huis is, dat die gesin ’n blyplek het, en al sulke soort dinge.

Koinonia se primêre betekenis is gemeenskap, deel, onderlinge sorg. Gelowiges in Christus moet saamkom in liefde, geloof en bemoediging. Dit is die essensie van koinonia.

Het u opgelet hoeveel keer die woord mekaar reeds in die eerste twee paragrawe hierbo voorkom? Miskien is juis hierdie woord die beste opsomming van hoe koinonia moet lyk. Die Skrif beveel ons om aan mekaar toegewyd te wees (Rom 12: 10); mekaar te eer (Rom 12: 10); in harmonie met mekaar te lewe (Rom 12: 16; 1 Pet 3: 8); mekaar te aanvaar (Rom 15: 7); mekaar in liefde te dien (Gal 5: 13); vriendelik en medelydend teenoor mekaar te wees (Ef 4: 32); mekaar te vermaan (Kol 3: 16); mekaar te bemoedig (1 Tess 5: 11); mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade (Heb 10: 24); gasvryheid aan te bied (1 Pet 4: 9); en lief te wees vir mekaar (1 Pet 1: 22; 1 Joh 3: 11 en 23; 4: 7 en 11-12). Dit is hoe ware Bybelse koinonia moet lyk.

Ds Hannelie Botha, Beroepafwagtend