Psalm 73: 1-3, 15-28
Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees (vers 28). Daar is een groot geheim van die lewe: om naby God te wees. As jy naby God is, maak jou lewe sin ongeag die omstandighede waarin jy jou bevind. Maar dit is nie so maklik nie; ons worstel almal daarmee.
Dit is presies ook die digter se worsteling. As hy terugdink, besef hy dit was nie altyd maklik om naby God te wees nie. Die Psalmdigter wil ons leer wat dit beteken om naby God te leef. In gebed stort hy sy hart uit voor God. Dis asof hy die diepste gevoelens in sy hart aan God bekend maak. Hy bring dit onder woorde en toe hy dit doen, kom daar ’n radikale verandering in sy lewe. Die digter het toe hy begin koers verloor en twyfel, sy toevlug tot God geneem. Dit was bitter moeilik en hy kon dit nie verstaan nie, maar tog het daar iets gebeur wat alles verander het. En die draaipunt is: …totdat ek in die heiligdom van God ingegaan het (vers 17). Hy het God se teenwoordigheid gaan opsoek in die tempel, daar waar ander mense ook God se teenwoordigheid ervaar. ’n Mens weet nie wat daar gebeur het nie, want die digter sê dit nie vir ons nie, maar iets radikaal het daar in sy lewe gebeur. En dan sê hy: Ek het gedink God is ver van my af, maar hy was die hele tyd naby my, Hy het my hand gevat, Hy sal my nie los nie.
As jy voel dat God ver is en jou nie hoor nie, of voel asof God jou vergeet het, gaan soek die nabyheid van God. Dit kan ook wees om in jou geloofsgemeenskap met iemand te praat wat al dieselfde ervaar het. Deur by jou geloofsgemeenskap in te skakel waar mense ook vir jou kan bid, kan jy weer deur hul gebede en nabyheid ook nader aan God beweeg. Ons het mekaar nodig, juis wanneer ons ver van God af voel.
Ds Retha Losper, Suidoos-Witbank