Efesiërs 4: 1-16
Paulus praat met die gemeente van Efese oor die eenheid in die kerk. Dit is ’n belangrike punt omdat die Heilige Gees hierdie eenheid bewerk. Hy spel dit ook duidelik uit dat die gelowiges dit kan regkry deur in al ons verhoudinge in vrede met mekaar te lewe (vers 3). Dit beteken dat gelowiges dit moet doen, want in vers 2 staan: Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde.
Ons almal maak foute, ons dink verskillend oor dinge, maar ons moet geduldig wees met mekaar se foute. Ons moet dus nie op die foute en swakhede van medegelowiges fokus nie. Ons moet erns daarmee maak om die eenheid wat die Gees bewerk het, te bewaar. Maar waarom is eenheid so belangrik? Dit is duidelik: Daar is net een liggaam en net een Gees. Daar is net een Here, een geloof, een doop en een God wat ons almal se Vader is. As ons as gelowiges veroorsaak dat gelowiges verdeeld raak, ontken ons die waarheid van al bogenoemde eenheidstellings.
As ons maar net kyk in die kerk, sien ons baie kere waar verdeeldheid in gemeentes gekom het – nietige leerstellings of selfs politieke standpunte of bloot persoonlikheidsverskille. Hierdie tipe verskille mag nooit in die Geesvervulde gemeente voorkom nie. Solank die gemeente saamstem oor die wesenlike dinge, die Goeie Nuus van Jesus Christus, moet ander geskille hulle nie uitmekaar dryf nie. Dit gebeur dat die kerk van Christus met mekaar verskil. Dink maar aan die Kerkhervorming, maar dit was oor diep geloofskwessies en nie nietige verskille nie.
Mag ons as NHKA nooit van die pad van waarheid afdwaal nie. Mag ons altyd fokus op dit wat ons wel gemeen het – die liefde en genade van God.
Ds Markus Pretorius, Weltevreden