Efesiërs 1: 18-23

Die beeld van God as Koning bo alle konings en Heerser oor alles is ook ’n beeld wat welbekend is. In hierdie teks spesifiek is dit Jesus wat as hoof van die kerk aangestel is. Heersers en regeerders ken ons goed. In die meeste gevalle is die voorbeelde van heersers en konings mense wie se mag na hul koppe gegaan het en wat hul mag misbruik. Daarom begin gelowiges selfbeskermend optree, veral in die kerk.

As geloofsgemeenskappe kan ons maklik reëls skep om seker te maak dat die evangelie, die verkondiging daarvan sowel as die simbole en ander waardevolle geloofsgebruike nie “misbruik” word nie. Die probleem is dat hierdie reëls gewoonlik ingestel word vir die uitsonderings, vir die een of twee gevalle waar mense misbruik maak van geloofspraktyke vir persoonlike wins. Wanneer reëls ingestel word om foute te vermy, is die gevolg gewoonlik dat meer foute geskep word. Gevolglik is ons so besig om die evangelie en evangelieverkondiging te beskerm dat ons dit begin privatiseer. Net sekere mense in sekere omstandighede mag op sekere maniere die evangelie verkondig, so asof ons as die kerk die evangelie en die uitlewing daarvan se kopiereg besit.

Dit is belangrik dat ons besef dat God steeds Heerser is oor die kerk. Dat God die kerk in stand hou en dat God nog deur die eeue ook die evangelie gebruik het om mense te bereik, al is dit soms uitgebuit en misbruik deur gebroke mense. Dit is nie ons as gelowiges se taak om die evangelie en die verkondiging daarvan te beskerm nie. Ons werk is om diensknegte te wees van die Koning. Die vraag is eerder altyd: Wie moet nog die Goeie nuus hoor, Here? Waarheen kan ons gaan?

Ds Thomas Dreyer, Malelane