Johannes 1: 43-51
Hoop is ’n snaakse konsep, is dit nie? Wanneer ons die woordjie hoop hoor, het ons dadelik ’n bepaalde beeld, prentjie of definisie van wat hoop is, en hoe hoop lyk. As daar gevra sou word waarop ons hoop, dan sou ons ’n duidelike prentjie van iets (wat meestal in die toekoms is) kon skets. Iets wat ons graag wil hê moet realiseer.
Die ou Israeliete het met ’n intense hoop geleef. Hulle was vir die grootste deel van hul geskiedenis onder die mag van ander koninkryke. In die tyd van Jesus se geboorte was die mense van Israel onder die mag van die Romeinse Ryk. Die mense van Israel het altyd gedroom – gehoop – dat hul lot sal verander. Hul hoop het – net soos ons hoop – ook ’n baie spesifieke prentjie gehad. Hulle het geglo dat die Here iemand uit die huis van Dawid sou stuur om hul Messias of Verlosser te wees – ’n politieke bevryder – wat hulle sou bevry onder die mag van die Romeine uit.
Hierdie Messias (hul hoop) het egter in ’n onverwagse vorm opgedaag. Hy het nie uit ’n vername familie gekom nie. Gaan lees weer die geslagsregisters in Matteus 1: 1-17 en Lukas 3: 23-38 en let op na die fassinerende figure wat Jesus se geslagsregister uitgemaak het. Hy het ook nie grootgeword in die tipe dorp waaruit jy ’n Messias se koms sou verwag nie. Natanael vra immers: Kan daar uit Nasaret iets goeds kom? Hierdie Messias het anders gelyk as die Messias wat die mense van Israel geglo het sou kom, maar tog het Hy die ganse wêreld vir ewig verander. Hy het selfs ons begrip van tyd in twee kom deel: alles wat voor sy koms gebeur het, en alles daarna.
Die Israeliete se hoop het nie teleurgestel nie, dit het net in ’n vorm opgedaag wat hulle nie verwag het nie. Smag jy na ’n werklike ontmoeting met die lewende Here? Moenie verbaas wees as Hoop in ’n onverwagse vorm by jou opdaag nie.
Ds Steve Oxton, Wapadrant