Filippense 2: 6-8
Oor watter tipe lewens word boeke geskryf, of selfs flieks gemaak? Ons sou maklik hierdie vraag kon antwoord met: buitengewone lewens, natuurlik! Wanneer ons dink aan lewens waaroor noemenswaardige stories vertel word, is ons dikwels geneig om te dink aan buitengewone lewens – lewens van mense wat teen alle verwagtinge in, die buitengewone bereik het. Hoe gemaak wanneer my lewe egter doodgewoon voel teenoor die buitengewone lewens wat ek dikwels by ander bespeur?
Die wonder van ons Here, Jesus Christus, is dat Hy – as die Buitengewone – steeds gekies het om deel van ons doodgewone menslike bestaan te kom word. In Paulus se brief aan die gemeente in Filippi, herinner hy die gemeente aan Jesus Christus wat Homself nie vasgeklem het aan sy buitengewone bestaan by God nie, maar Homself “leeg gemaak” het deur die gestalte van ’n slaaf – ’n dienaar – aan te neem. Jesus Christus het as Buitengewone gekies om in te tree in die doodgewone bestaan van die mensdom – my en jou bestaan.
Ons sien dit veral ook in Jesus se aardse lewe. Hy het as Koning van die ganse heelal nie die hoë en buitengewone mense en plekke van die lewe gaan opsoek nie, maar eerder gekies om in te tree in die alledaagse, doodgewone bestaan van mense wat tussen die krake van die samelewing geleef het. Jesus het as die Buitengewone gekies om sy buitengewone liefde te leef aan doodgewone mense. Is dit nie ’n wonderlike troos vir ons nie?
Aangesien ons hierdie buitengewone liefde beleef en ervaar het, kan ons dit natuurlik nie vir onsself hou nie. Ons word geroep om hierdie buitengewone liefde in die doodgewone lewens van ander sigbaar te gaan maak. Mag ons hierdie roeping elke dag van ons lewens uitleef.
Ds Steve Oxton, Wapadrant