Ons as Christengelowiges wat leef met die kruisiging én die opstanding as deel van ons geestelike verwysingsraamwerk, is reeds bewus daarvan dat ons daagliks ’n pad saam met die Here moet stap as verloste kinders van God. Daaglikse introspeksie maak deel uit van hierdie geloofspad saam met God.

Johannes 21: 15-19 (AFR83) – Petrus kry opnuut sy opdrag:

Toe hulle klaar geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus: “Simon seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle hier?” “Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek U liefhet.” Hy sê toe vir hom: “Laat my lammers wei.” Jesus vra hom weer ‘n tweede keer: “Simon seun van Johannes, het jy My baie lief?” “Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek U liefhet.” Hy sê toe vir hom: “Pas my skape op.” Jesus vra hom die derde keer: “Simon seun van Johannes, het jy My lief?” Petrus het bedroef geword omdat Jesus hom die derde keer gevra het: “Het jy My lief?”, en hy antwoord Hom: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.” Hy sê toe vir hom: “Laat my skape wei. Dit verseker Ek jou: Toe jy jonger was, het jy self jou klere vasgemaak en gegaan waar jy wil; maar wanneer jy oud is, sal jy jou hande uitsteek, en iemand anders sal jou vasmaak en jou bring waar jy nie wil wees nie.” Dit het Jesus gesê en daarmee aangedui deur watter soort dood Petrus God sou verheerlik. Daarna sê Hy vir hom: “Volg My!”

Die derde keer toe Jesus aan sy dissipels verskyn het nadat Hy uit die dood opgewek is, ontvang Petrus drie opdragte in reaksie op sy verloëning van die Here. Die opdragte van Christus is: Laat my lammers wei (vers 15), Pas my skape op (vers 16), en Laat my skape wei (vers 17). Daarna gee Hy vir Petrus die opdrag: Volg My! (vers 19).

Hoe volg ons in vandag se tyd die Here? In ons Westerse samelewing werk ons met bewyse. Met ’n kwitansie kan ons bewys dat ons betaal het. Met ’n kontrak kan ons bewys dat ons sekere regte het. Deur feite te verskaf, kan ons ons uitsprake bewys.

Geloof werk egter anders. Geloof word geleef. Geloof vra die uitleef van die beloftes in die Woord. Geloof is om met vertroue, met oorgawe en aanvaarding te leef. Geloof is die wete dat ons in ’n verhouding leef met ’n liefdevolle God, wat ons versterk en dra in moeilike tye. Hy bemoedig ons in ons nood. Geloof is om te lewe in gehoorsaamheid soos God dit wil hê.

Somtyds voel mense dit is te veel gevra. Ons leef in ’n tyd waar mense maklik roekeloos eerder hul eie pad stap en dan verdwaal. Gelowiges weet hoeveel krag en dapperheid ons nodig het op ons daaglikse lewensreis. ’n Reis onder die beskerming van God, maar ook in opdrag van God, moet deel uitmaak van elkeen se geloofspad.

Hoe loop ons hierdie pad in gehoorsaamheid aan die Here en saam met ons geliefdes? Hoe volg ons Hom en is ons terselfdertyd vir ander ’n voorbeeld?

Kies om elke dag op God te vertrou en lééf dit – wanneer jy in die oggend wakker word, bid elke dag tot God vir leiding.

Leef een dag op ’n slag en dank God vir wat Hy vandag voorsien het.

Loof Hom in alles wat jy doen en leef tot eer van sy Naam.

Bestee tyd saam met jou geliefdes en hou saam stiltetyd.

Wees diensbaar in jou gemeente en die gemeenskap en raak betrokke deur byvoorbeeld ’n kosmandjie vir ’n behoeftige familie te gee en betrek die kinders by die keuse van die mandjie se inhoud.

Nooi iemand wat eensaam is vir koffie of ’n ete en bring tyd saam met hulle deur.

Kyk na jou gesondheid – fisies en geestelik – sodat jy vir jou gesin kan sorg – fisies en geestelik.

Kom ons loop die pad elke dag met vertroue saam met die Here met hierdie leuse voor oë: Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het (Heb 3: 14, AFR83).

Mag ons altyd met die kruisiging én opstanding van Christus binne ons leef sodat ons nuut kan dink en nuut kan lewe tot eer van sy Naam.