Matteus 11: 25-30
Jesus nooi ons uit: Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig (Matt 11: 28-30). Is jy braaf genoeg om vanoggend Jesus se uitnodiging te aanvaar? Of is jy braaf genoeg om ten minste net weer te probeer?
Hier waar ons aan die begin van ’n nuwe jaar staan, ’n jaar vol Nuwejaarsvoorneme. Dalk het jy al tevore probeer om jouself toe te wy aan jou gebedslewe, maar toe gebeur die lewe. Is jy braaf genoeg om na Jesus te kom? Hier nooi Jesus die eenvoudiges wie die dissipels was uit om te kom na Hom nes hulle is. Jy word ook uitgenooi – kom nes jy is. Voel jy dalk onbekwaam? Moontlik het die dissipels ook só gevoel. Voel jy dalk dat jy nie geleerd genoeg is nie? Die meerderheid van die dissipels was ook nie geleerde mense nie. Hulle het steeds die uitnodiging aanvaar.
Die wêreld het die dissipels onderskat in dieselfde manier wat ons soms ook onsself onderskat. God gebruik hulle steeds om sy koninkryk te vestig omdat hulle afhanklik van Christus se vermoëns en krag is. Die begin van ’n nuwe jaar kan ’n gulde geleentheid wees om weer jou gebedslewe opnuut te prioritiseer. ’n Tyd van weer die uitnodiging aanvaar! Maar ons moet dan ook ’n ruimte deur gebed skep waar ons God kan hoor, waar ons Jesus se uitnodiging kan hoor.
Gebed
Heilige en Almagtige Vader, Here van die hemel en die aarde. Dankie dat U by die deur van ons harte staan en ons uitnooi om die deur oop te maak. Lei en versterk ons om braaf genoeg te wees om opnuut hierdie deur oop te maak. Om opnuut na U toe te kom. Dankie dat wanneer ons U aanroep, U reeds op ons wag. Amen.
Ds Iwana Kruger, Pretoria-Oos