Johannes 12: 20-22

Vanoggend staan ons nie naby aan Palmsondag nie, maar daar is wel ’n les wat ons uit die verhaal van Palmsondag só aan die begin van die jaar kan leer. Tydens Jesus se aankoms in Jerusalem het die volgende in Johannes 12: 20-22 plaasgevind: Daar was ook ’n aantal Grieke onder die mense wat fees toe gekom het om te aanbid. Hulle het na Filippus, wat van Betsaida in Galilea afkomstig was, gegaan en vir hom gevra: “Meneer, ons wil Jesus graag ontmoet.” Filippus het gegaan en dit vir Andreas vertel. Andreas en Filippus gaan toe en sê dit vir Jesus.

Dit is my gebed dat ons as gelowiges nooit ophou vra: Meneer, ons wil Jesus graag ontmoet. Kom ons, nes die Grieke, vra gedurig om Jesus te ontmoet. Kom ons oefen om op te daag en te luister wat ’n teks in die Bybel vir ons van ons God wil probeer vertel. Jesus nooi ons telkens in die Nuwe Testament uit om Hom te ontmoet, om Hom te leer ken, maar dan moet ons Jesus by die ontmoetingspunt inwag. Die Griek het opgedaag. Ja, hy het Jesus dalk nie waarlik geken nie en slegs van Hom gehoor, maar hy was daar en hy het opgedaag.

Ons kan die erns in sy vraag aanvoel: Meneer, ek wil Jesus ontmoet! Hy sou sy ontmoeting met Jesus misgeloop het as hy nie opgedaag het nie. Kom ons daag op, bang of opgewonde. Kom ons daag op, voorbereid of nie.

Gebed

Heilige en Almagtige Vader, ons kom vandag voor U en ons betoon dankbaarheid vir die geleentheid om U te kan ontmoet. Dankie dat U keer op keer vir ons by die ontmoetingspunt wag. Daar is geen haas en daar is geen prys wat ons moet betaal nie, ons moet net opdaag.

Ds Iwana Kruger, Pretoria-Oos