Johannes 6: 27-35
Die skare wat ooggetuies van Jesus se wonderwerk met die vermeerdering van die vyf garsbrode en twee vissies was, is die volgende dag opsoek na Jesus.
Jesus wys hulle summier daarop dat hulle Hom soek omdat hulle versadig geword het van die brood en vis wat hulle geëet het. Nou wil hulle weet watter teken hy gaan verrig sodat hulle Hom sal glo. Jesus wys daarop dat hulle die versadiging as teken sien. Maar die eintlike teken gaan oor wie Hy is. Hy verskaf antwoorde wat nie vir hulle strook met hul vrae aan Hom nie. Hulle probeer uitpluis wie Hy is in die lig van wat hulle die afgelope tyd van Hom beleef het.
Sy antwoorde kom oor wie Hy is in verhouding tot hierdie teken waarna hulle soek. Julle moet glo in die Een wat God gestuur het. Wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie. Hy verwys na wat uit die hemel neerdaal en lewe gee. Jesus sê: Ek is die brood van die lewe.
Die skare dink aan aardse brood en Jesus verwys na Homself as die brood van die lewe. Die uitdaging vir hulle en ons is om verby die fokus op kos te kom. Verby die verstaan van om versadig te word, eerder om vir Jesus as die bron van die ewige lewe te erken.
Ons word herinner aan God se sorg en sy teenwoordigheid in ons alledaagse lewe. Gister en vandag se teks herinner aan die eet en drink en God wat sorg. Jesus bevestig dat God sorg, net soos wat Hy vir die Israeliete met manna en kwartels in die woestyn gevoed het. Nou het ons meerdere kennis van Hom, die ervaring dat Hy vir ons sorg en sy teenwoordigheid elke dag van ons lewe. Aan sy liefde is daar regtig géén einde nie. Laat ons honger en dors na dit wat Hy vir ons is. Daarvoor dank ons Hom met ons hele lewe.
Ds Kathleen Smith, Kaapstad