Romeine 12: 1-2

Die volgende bede van die Onse Vader is: Laat u wil geskied (Matt 6: 10). Ons het gesê dat as ons dink aan gebed, ons moet dink aan ’n selfoon. Hoe ’n selfoon gelaai moet word om te kan werk. So ook moet ons as gelowiges gelaai en herlaai word om te kan werk. Om ons doel as kinders van God op aarde uit te leef.

Die feit dat die bede in ’n passief staan, kan ons maklik laat dink dat die werk om God se wil te laat geskied alleenlik in sy hande rus. Natuurlik is dit ook waar. God in sy almag laat sy wil geskied op ’n menige maniere. Dit hef egter nie die verantwoordelikheid op van ons as God se kinders om God se wil vir hierdie aarde meer bekend te maak nie.

Maar hoe lyk God se wil? Waar vind ons God se wil? Die antwoord natuurlik is in God se Woord. Maar daar is eintlik ’n stap wat voor dit moet gebeur. Dit is presies waarvan Romeine 12: 2 praat: …maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is. Ons as mense kan nie onderskei wat die wil van God is nie. Ons kan nie eers net die Bybel lees en daaruit die wil van God aflei nie. Immers is van die grootste vergrype in die geskiedenis afgemaak as die wil van God. Dit is alleen as die Gees van die Here ons gedagtes vernuwe dat ons as mens kan insien wat God se wil vir hierdie wêreld is.

Daarom wanneer ons bid: Laat u wil geskied, bid ons eerder: Here laat u wil geskied. Gee my die insig om te onderskei wat u wil is vir hierdie wêreld. Herlaai my pap batterye dat ons verder u wil aan die wêreld bekend kan maak. Amen.

Ds Willem Dreyer, Groot Marico