Filippense 4: 4-9

Die volgende bede van die Onse Vader wat ons gaan behandel is die gebede: Gee ons vandag ons daaglikse brood (Matt 6: 11, AFR2020).

Die gebed oor ons daaglikse brood klink die heel eenvoudigste van al die gebede. Ons vra dat die Here aan ons behoeftes sal voorsien. Maar begin ons so bietjie te delf, dan wonder ’n mens: Wat beteken daagliks? Mag ons net bid vir een dag op ’n slag? In sommige gevalle is dit moeilik want sekere behoeftes is nie ’n daaglikse affêre nie. As ons bid vir ons brood beteken dit net brood? Fisiese kos? Of strek dit verder as dit. Die Griekse woord wat gebruik word vir daagliks word baie moeilik vertaal. ’n Moontlikheid is om dit te vertaal met genoegsame. Gee ons genoegsame brood. En brood verwys nie net na die fisiese brood nie. Dit verwys ook na die arbeid wat dit moontlik maak om brood te koop of te bak. Dus: Gee ons genoegsame krag om ons brood te verdien.

Die klem van die bede val eintlik op ons. Die ons behoort elkeen van ons aan te kla. Wie is ons ons. Is die boemelaar op straat ons. Of is die ons net ons naaste bure en vriende. Gun ons mekaar die kans om hul daaglikse brood te verdien? Of dalk nog meer: As die Here ons met genoegsame genade geseën om ’n voorspoedige lewe te lei, deel ons dit uit aan die ons wat nie raakgesien word nie.

Wanneer ons dus bid: Gee ons vandag ons daaglikse brood, bid ons eerder: Here help my om die genade wat u my genoegsaam van gee om elke dag te lewe ek ook aan almal rondom my sal uitdeel. Maak my hande sterk dat nie net ek genoegsame middele het nie, maar almal met wie ek in aanraking kom. Amen.

Ds Willem Dreyer, Groot Marico