Kolossense 1: 9-20
Die volgende bede van die Onse Vader wat ons gaan behandel is die gebede: en laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose (Matt 6: 13).
Wat is die Bose? Die Bybel verkeer onder geen twyfel dat daar bose geeste en magte en kragte is wat ’n invloed kan uitoefen op ’n mens se lewe nie. Daarom dat die Apostel Petrus sê die duiwel loop rond soos ’n brullende leeu (1 Pet 5: 8). Ons in ons moderne rasionele wêreld maak maklik die invloed van die bose magte af as kinderstories wat daar was om mense deur vrees in bedwang te hou. Ons grap maklik oor die duiwel van die Kinderbybel met sy stert en vurk.
In die vroeë kerk was die oudste verstaan van ons verlossing egter die sogenaamde Christus Victor. Christus as oorwinnaar oor die alle magte en kragte. Ons vind die verlossingsverstaan baie sterk in Kolossense. Ons as gelowiges (ja selfs modernes) moet dus die vraag na die bose ernstig neem.
Of jy glo in die letterlike verstaan van die bose magte of eerder die siening huldig dat dit personifieer alles wat boos is aan die mens maak eintlik nie saak nie. Die Kolossense 1: 13 bevestig dat die bose onder die heerskappy van God staan. Dat deur Christus aan die kruis ons uit die mag van die duisternis weggeruk is.
Wanneer ons dus bid: Laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose, bid ons eerder: Here, maak my geloof sterk dat ek kan glo en bely u Seun het die bose oorwin en daarom hoef ek nie die bose om my en in my eie hart te vrees nie. Herlaai my geloofsbattery dat ek eerder as ’n engel optree wat die goeie nuus bring en as ’n duiwel wat iemand anders in versoeking stel nie. Amen.
Ds Willem Dreyer, Groot Marico