Markus 11: 1-25
Die volgende bede van die Onse Vader wat ons gaan behandel is die gebede: Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid (Matt 6: 13, AFR2020).
Die lofprysing aan die einde van die Onse Vader vind ons net in die 1933/53- en 2020-vertaling van Matteus 6: 13. Dit is egter so deel van ons kerklike lewe dat ons dit nogtans as deel van die gebed beskou.
Hoe lyk die koninkryk van God? Hoe lyk die krag van God. Ons wil baie maal hê dat God sy mag aan ons sal openbaar amper soos ’n Hollywood-fliek met ontploffings en weerligstrale. Maar dan gebeur dit nie. Ons sien met Christus se intog in Jerusalem hoe Hy as koning gehuldig word. Daar is geen parade nie, net ’n donkie.
Maar die beskeie koninkryk is nie ’n lamsakkerige plek nie. Ons koning op sy donkie gaan vandaar af direk tempel toe en openbaar sy krag. As Christus die tempel reinig, sien ons maar min van die liefdevolle Jesus wat ons aanmoedig om die ander wang te draai. Hoekom? Want die heerlikheid van God is op die spel. Die tempelverkopers ontheilig die tempel met die verneukery wat daar aangaan.
Die vraag is egter wat het die arme vyeboom gedoen om so hard vervloek te word. Die Here Jesus het vrugte gesoek by die boom. Hy het vrugte van geloof gesoek in die tempel. Nie een is gevind nie. En elkeen het verdroog tot in die wortel.
Wanneer ons dus bid: Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid, bid ons eerder: Here, maak my geloof sterk dat ek nie twyfel dat u koninkryk besig is om in te breek op aarde nie. Herlaai my batterye dat ek nie altyd net met kragdadigheid wil optree nie. Maar gee my ook die geloofsmoed om met krag op te tree as u heerlikheid op die spel is. Amen.
Ds Willem Dreyer, Groot Marico