Markus 1: 16-20
Vissers was doodgewone mense wat hard gewerk het om vir hulle en hul families te kon sorg. Jesus ontmoet hulle met ’n boodskap: Volg My, en Ek sal jou ’n visser van mense maak (Mark 1: 17)!
Volg my!, was die eerste opdrag. Toe Jesus vir hierdie manne sê om Hom te volg, het Hy nie bedoel gaan groet eers jou familie of maak klaar waarmee jy besig is of as jy lus is om dit te doen nie. Jesus het bedoel: los alles waarmee jy besig is en kom nou dadelik saam met My. Hierdie manne sou saam met Jesus deur die land reis.
Wanneer jy iemand volg, begin jy later soos daardie persoon dink en optree. Jy word amper daardie persoon se skaduwee. Toe Jesus sê: Volg My, wou Hy gehad het die dissipels moet soos Hy versorg, soos Hy liefhê en omgee.
Christene is mense wat ook op Jesus se roep reageer en sy volgelinge word, maar hoe vang jy vis? Ervaar mense iets van Jesus se liefde en warmte by jou? Prikkel dit hul belangstelling om nader te kom en te kom kennis maak? Of span jy eerder jou nette om vreemdes uit te hou en weg te hou? Of laat sak jy jou nette om meer mense in te laat net soos vissermanne visvang?
Skuif jy alles wat God se plek in jou lewe ingeneem het, opsy sodat jy weer sy stem kan hoor en lééf volgens sy wil? Jesus het tog nie van ’n afstand af na mense omgesien en hulle lief gehad nie. Nee, Hy was saam met hulle.
Mense is geneig om te vra wat kan Jesus vir my doen – draai bietjie die vraag om, wat kan ek bied. Dit is eers wanneer jy van jouself gee, wanneer jy dien wat die geloofsvlam begin brand. Dan hoor en sien jy hoe God wil hê jy ’n visser van mense moet wees.
Mag ons keer op keer God se opdrag hoor en dit waarmee ons besig is neerlê en Hom volg!
Ds Marissa Kidson, Pretoria-Wes